Dogter in regstryd vir ma se boedel
Dogter in regstryd vir ma se boedel

Dogter in regstryd vir ma se boedel

’n Jong vrou dagvaar die meester van die hoërhof en die ministerie van justisie vir sowat N$1,2 miljoen, maar dié partye beweer die saak het reeds verjaar.
Kristien Kruger
Kristien Kruger

’n Jong vrou wat die erfgenaam van haar ma se N$1,2 miljoen-boedel is, dagvaar die ministerie van justisie, die meester van die hoërhof en die man wat glo die boedel deur persoonlike verryking uitgeput het.

Me. Maruzaan Moller veg reeds ses jaar vir die boedel van haar oorlede ma, me. Yolandi Beukes, waarvan sy die erfgenaam is.

Nege dae nadat sy 21 geword en gekwalifiseer het om die eksekuteur van die boedel te word, is iemand anders as die eksekuteur aangestel.

Die meester van die hoërhof het dit reggestel en Moller as eksekuteur aangestel, maar die vorige eksekuteur het toe glo reeds N$1,2 miljoen vir persoonlike verryking aangewend.

Moller het tot nou nog nie die geld ontvang nie.

Moller was ten tyde van haar ma se afsterwe nog minderjarig en het dus in Maart 2015 deur haar prokureur die meester van die hoërhof in kennis gestel dat die oorledene se eksman en Moller se biologiese pa, mnr. Rayland Beukes, as eksekuteur aangestel moet word.

Volgens die hofstukke het die meester van die hoërhof hulle ingelig dat Beukes net as eksekuteur aangestel kan word indien hy die sekuriteit betaal.

SONDER FAMILIE SE GOEDKEURING

Moller se prokureurs het gevra dat die aanstelling moet wag totdat Moller op 9 November 2015 mondig sou word.

Op 22 November is die meester in kennis gestel dat Moller 21 is en as eksekuteur aangestel moet word. Moller is toe ingelig dat die eksekuteurskap reeds aan mnr. Mervin Kozonguizi oorgedra is.

Volgens hofstukke was sy aanstelling nege dae ná Moller se verjaarsdag gedoen en sonder die oorledene, haar familie of erfgenaam se instruksies, raad of goedkeuring.

“Die verweerder was bewus dat Moller nie meer minderjarig is nie. Daar was dus geen rede waarom Moller nie meer as eksekuteur van die boedel aangestel kon word ten tyde die aanstelling van Kozonguizi nie,” lui die hofstukke.

Op 3 Junie 2016 het die meester van die hoërhof glo die aanstelling gekanselleer en Moller as die eksekuteur van die boedel aangestel.

BEWEERDE WANBESTUUR

Moller beweer Kozonguizi, wat die derde verweerder in die saak is, was nie geskik om die boedel te ontvang nie.

“Hy is onbetroubaar en het sy posisie as eksekuteur van die boedel misbruik vir sy persoonlike verryking,” lui die hofstukke.

Op 2 Desember 2015 het Kozonguizi N$1 247 357 vir die boedel ontvang. ’n Dag daarna het Kozonguizi na bewering onwettiglik een miljoen dollar vanuit die boedel se rekening na sy besigheid se rekening oorbetaal.

Die oorblywende N$274 400 was glo vanaf Desember 2015 tot Maart 2016 na verskeie individue se bankrekeninge oorgeplaas tot die voordeel van Kozonguizi en sy besigheid.

Moller voer aan die meester van die hoërhof moes Kozonguizi se gebruik van die boedel gemonitor het om van enige wanbestuur daarvan bewus te wees en moes vroeër sy eksekuteurskap beëindig het.

MEESTER, MINISTERIE BEWEER VERJARING

Die meester van die hoërhof en die ministerie van justisie beweer die saak het verjaar omdat drie jaar reeds verloop het.

“Dagvaarding is in Junie 2020 uitgereik en op 10 Junie 2020 vir die verweerders gedien, wat meer as drie jaar is ná die datum waarop die saak ontstaan het,” lui hul hofstukke.

Hulle stel verder dat sodra Moller as eksekuteur aangestel was, was dit haar verantwoordelikheid om die boedel te kry en die waarde daarvan te bepaal.

“Die nuwe eksekuteur was nalatig in die uitvoering van haar pligte en sy het genoeg tyd gehad om, voordat die sekuriteit verminder is, die meester in kennis te stel van die stand van die boedel,” lui die hofstukke.

Hul voer aan die aanstelling van Kozonguizi is in ooreenstemming met die wet gedoen en dat hulle geen verpligting gehad het om die eiser van die aanstelling in kennis te stel nie.

“Die meester van die hoërhof word deur geen wet verplig om elke banktransaksie te monitor wat deur die eksekuteur aangegaan is nie,” lui die hofstukke.

N$2.1 MILJOEN, RENTE EN REGSKOSTE

Moller eis dat die N$1.2 miljoen aan haar verskuldig is en stel dat óf die meester van die hoërhof en ministerie van justisie (eerste en tweede verweerders), óf die derde en vierde verweerders wat Kozonguizi en sy besigheid is, óf al vier die totale koste moet dek.

Sy eis ’n verdere 20% rente op die bedrag per jaar vanaf 1 Desember 2015 totdat die finale betaling gedoen word, asook haar regkoste.

“Die eerste en tweede verweerders is nie aanspreeklik om die boedel of die eiser te vergoed nie, aangesien sodanige vergoeding moet kom van die derde verweerder, die vierde verweerder of hul waarborge soos beoog deur die sekuriteitsverband by die eerste verweerder,” lui die hofstukke wat die meester en ministerie se regsverteenwoordiging ingedien het.

Kozonguizi het volgens rekords nog geen aanduiding gegee dat hy die eis teenstaan nie.

Die verhoor sal op 2 November in die hoërhof in Windhoek hervat.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!