u2018Dok op, of ons likwideeru2019
u2018Dok op, of ons likwideeru2019

‘Dok op, of ons likwideer’

Een van die nasionale redery se vele skuldeisers se geduld is op en ’n likwidasie-aansoek is dalk enkele dae weg.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer

Air Namibia het tot Vrydag tyd om sy uitstaande skuld van N$236 miljoen aan Challenge Air SA te betaal en ’n aansoek om die likwidasie van die nasionale redery in die hoërhof vry te spring.

Dít is die boodskap in ’n brief op 2 Julie aan mnr. Escher Luanda, voorsitter van Air Namibia se direksie.

Die brief is deur mnr. Sisa Namandje van die firma Sisa Namandje & Co. Inc. namens die Belgiese lugvaartmaatskappy Challenge Air SA aan Luanda, sowel as aan mnre. John Mutorwa, minister van werke en vervoer, en Leon Jooste, minister van staatsondernemings (SOE’s), gestuur. Republikein het ’n afskrif hiervan saam met nog dokumentasie te sien gekry.

Dié brief is die jongste in ’n reeks sedert vroeg Junie aan die nasionale redery, sy direksie en die betrokke lynministers oor die skuldkwessie.

Hiervolgens het Air Namibia vanaf 25 Junie altesaam 15 dae tyd vir die betaling van die uitstaande skuldbedrag van digby €12,3 miljoen (N$236 miljoen). Die 15 dae tydperk verstryk Vrydag.

Hierdie is bloot een van die uitstaande skuldbedrae in Air Namibia se skuldpot van meer as N$5 miljard.

Die jarelange regstryd tussen Air Namibia en Challenge Air SA spruit uit ’n ooreenkoms wat Air Namibia in Maart 1998 aangegaan het vir die huur van ’n 351-sitplek vliegtuig van dié Belgiese maatskappy. Air Namibia het later aangevoer daar is fout met die vliegtuig en het nie die kontrak eerbiedig nie.

Hoewel Challenge Air SA kort daarna gelikwideer is, het die likwidateurs Air Namibia in ’n hof in Duitsland vir kontrakbreuk van €25 miljoen (dit is N$479 miljoen teen die huidige wisselkoers) gedagvaar.

Die aansoek het voor ’n Duitse hof gedien aangesien Air Namibia die kaartjieverkope-agentskap Aviareps in Duitsland gebruik vir besprekings op sy Windhoek-Frankfurt-vlugte, en ook ’n bankrekening in Duitsland het.

Dit blyk nou die onverbiddelike houding van Challenge Air SA se likwidateurs is die rede waarom Air Namibia in Junie alle repatriasievlugte buite Namibië gekanselleer het, uit vrees dat op Air Namibia se vliegtuie beslag gelê kan word wanneer dit die Namibiese lugruim verlaat.

Mutorwa het na aanleiding hiervan op 5 Junie aan Jooste asook aan mnr. Iipumbu Shiimi, minister van finansies, geskryf en ’n “gekoördineerde, gepaste reaksie” deur die SOE-ministerie en die kabinetskomitee op tesourie (CCT) voorgestel. Hy het verder voorgestel dat Shiimi, as voorsitter van die CCT, ’n noodvergadering belê.

Op 9 Junie het Luanda aan Namandje geskryf en hom meegedeel die direksie is in gesprek met die regering as enigste aandeelhouer in ’n poging om ’n “vriendskaplike” oplossing vir die skuldkwessie te vind.

Hy vra daarin verder dat ’n vergadering vir die week van 29 Junie tot 3 Julie belê word om oor die sperdatum te praat.

Intussen het Shiimi Donderdag ’n verklaring uitgereik na aanleiding van ’n berig in ’n weekblad waarvolgens die kabinet glo besluit het om Air Namibia te likwideer, terwyl die direksie en bestuur ’n sakeplan ontwikkel het wat die nasionale redery in ’n kort tyd winsgewend kan maak.

Shiimi sê daarin as voorsitter van die CCT wil hy die nasie die versekering gee dat die kabinet nié so ’n besluit geneem het nie. In dieselfde asem voeg hy by nóg die huidige bestuursmodel, nóg die nuwe sakeplan is volhoubaar of bekostigbaar en daarom oorweeg dié komitee tans verskeie herstruktureringsopsies.

Shiimi sê Air Namibia se skuld beloop tans meer as N$5 miljard. Hy sê om die nuwe sakeplan in werking te stel, sal ’n verdere N$2 miljard hier bygetel word en meebring dat die regering vanjaar meer as N$7 miljard moet opdok. Dit is onmoontlik in die lig van die behoeftes vir gesondheid, onderwys, behuising en sanitasie midde die Covid-19-pandemie, sê die finansminister.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!