Down se hemelkinders kom om die aarde te verower
Down se hemelkinders kom om die aarde te verower

Down se hemelkinders kom om die aarde te verower

Des Erasmus
Uit die Boland kom die afgelope dae die tyding van die dood van ’n hemelkind. Dit vat aan my en ek stuur ’n boodskappie aan die enkelouer doer in die vreemde waar ook eens my spoor langs die Eersterivier gelê het.

Iets soos . . .

“Wenners! So sê ons vandag met die aanhoor van die tyding dat die dood lig gebring het in die skaduwee van die lewe. Hanlie was ’n wenner met haar liefde en vrolikheid wat sy in oormaat kon gee. ’n Hemelkind wat die aarde verower het. Jy is ’n wenner vir die wyse waarop jy haar tot die dood toe bygestaan het.”

Lees die kitsreaksie so ’n slaggie deur vir ’n vingerfout of twee en meen dit bly steeds te min, te laat. Maar toe maar!

Vat dan ’n naslaanbundel en ry na ’n baaitjie net suid van Swakopmund om lafenis vir die steekplek van die angel van die dood te kry. In die kleiner familiekring ons Getsemane. Daar in die alg van die rotse en die wier van die see dryf die salf waar die vlak brandertjies speel. Soos net nou die dag ook vir ons.

Opdat ons nie vergeet nie.

Down se sindroom is meer as ’n 150 jaar gelede deur ’n Britse geneesheer beskryf. Dr. John Langdon Down het in 1866 opgeteken dis ’n toestand, nie ’n siekte nie. Die kenmerke het hy beskryf, ook dat die toestand onomkeerbaar is. Dis kinders wat reeds by geboorte aan ’n spesiale behoefte ly. Daarop is die beloning en bevrediging vir die ouers wat dié kinders grootmaak groter as die van ’n gewone kind.

“Dis g’n doodsvonnis nie, maar bied aan ouers ’n wonderlike geleentheid,” staan daar geskryf. Maar die lyers aan Down se sindroom staan daarvoor in met hul aansteeklike vrolikheid en lieftalligheid.

So word die eerste maande en jare ná die geboorte nog onthou. Die ouers het wyd nagevors oor die geleenthede wat spesiale versorgingsoorde bied, maar uiteindelik was die besluit dat niks by ouerliefde kom nie. Uit die kennis van die toestand en die ontwikkeling van bystand kon wel geput word. Maar niks kon beter as die eie kring wees nie.

Maar toe word die opbrengs van die kindsbeenjare veel groter as net die ouervreugde uit versorging. Mense van die ganse buurt het die kleinding leer ken en liefkry. Eers het die dood die pa geneem, maar moedersorg het vir die volle 48 jaar van die leeftyd getrou gebly. Vir mense met dié toestand is 48 jaar ’n rype ouderdom.

Een staaltjie uit die lewe van die ganse buurt se troetelkind was die opwinding wat deurgesyfer het met die koms van haar verjaarsdag. Toe word die ganse gebied se mense deur haarself na haar partytjie genooi. Gelukkig het almal toe al verstaan.

In die versorging van ’n lieftallige mens met so ’n toestand word moederliefde die kanaal waarlangs kommunikasie vloei. Sy was die een wat geraadpleeg is voordat ’n geskenk gebring is. In ons eie geval was dit ’n geldjie vir die koop van die weelde van ’n donskombers vir die nagte wanneer die Kaapse winterwinde waai en die Boland se motreën oor die Pieke kom sif. Juis met die dood het die versekering gekom dat juis die kombersie die pant tussen ma en dogter gaan bly. Die dood kon dit nie skei nie.

Deur die jare is meer geleer oor kinders met Down se toestand. Die grootste fout wat gemaak kan word, is om hulle doelbewus mis te kyk, om oorkant van die straat te bly loop. Al wat nodig is, is om normaal op te tree. Dis ’n lewenskaart wat vir honderde ouers gedeel word.

Laat elkeen die hoed lig vir spesiale ouers in wie se sorg die hemelkinders toevertrou is.

Selfs met haar dood het ’n klein meisietjie van die Boland my ’n les geleer.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!