Drie moorde voor Kersfees
Drie moorde voor Kersfees

Drie moorde voor Kersfees

Francoise Steynberg
Otis Finck op Walvisbaai - Hoofinspekteur Erastus Ikuyu het bevestig die polisie ondersoek drie moorde en een poging tot moord voor Kersdag in die Erongostreek.

Aletha Swartbooi (27) is dood nadat sy omstreeks 23:00 op 23 Desember op Omaruru met ‘n skerp voorwerp in haar bors gesteek is.

“Ons het ‘n verdagte in hegtenis geneem. Hy het homself by die polisie op Okahandja oorgegee en sal vandag in die landdroshof op Omaruru verskyn.

“Die oorledene en haar kêrel het van Okahandja na Omaruru gereis om Kersfees by hul familiewoning in die Ozondje-woonbuurt deur te bring. Terwyl hulle saam met die familie was, het ‘n argument tussen die slagoffer en die verdagte ontstaan en hy het haar doodgesteek. Die naasbestaandes is in kennis gestel,” het Ikuyu gesê.

In nog ‘n voorval is die oorskot van Prince Gowaseb (18) omstreeks 03:30 op 22 Desember deur verbygangers naby die poskantoor op Arandis aangetref.

Na bewering het die verdagte en die oorledene ‘n aantal kroeë besoek en is gesien terwyl hulle saam drink toe die oorledene die laaste keer lewend gewaar is. Hulle was klaarblyklik onderweg na die huis van die verdagte, wat nie ver van die poskantoor is nie, en waar die lyk van die oorledene aangetref is, toe hy doodgesteek is.

“Die oorledene was ‘n student aan die Sekondêre Skool Colin Foundation. Hy is vier keer gesteek, drie keer op sy lyf en een keer in sy kop. Ons het die verdagte in verband met die voorval aangehou. Dit is nie duidelik hoekom die verdagte die oorledene gesteek het nie. Die naasbestaandes is in kennis gestel en die ondersoek duur voort,” het Ikuyu gesê.

Brendon Keramin (27) is op 20 Desember omstreeks 16:20 by huis nommer 2947 in die Tulinawa-woonbuurt van Mondesa doodgeskiet. Die oorledene het sy neef besoek. Hy het TV gekyk toe sy neef se huismaat, mnr. David Oubaas Goa-Eiseb (30) daar aangekom het. Goa-Eiseb, wat vir 'n sekuriteitsmaatskappy op Swakopmund werk, was aan diens en het saam met ‘n kollega in ‘n werksvoertuig by die huis aangekom.

“Die verdagte het na bewering die vertrek met sy diensrewolwer in sy hand binnegekom en kort daarna het ‘n skoot afgegaan. Die oorledene is onder die regterkantse armholte getref en is op die toneel dood," het Ikuyu gesê.

"Die verdagte is deur sy kollega ontwapen en kort daarna in hegtenis geneem. Die naasbestaandes is in kennis gestel. Dit is nog nie duidelik hoekom die verdagte die slagoffer geskiet het nie omdat die twee nooit woorde gehad het nie."

Goa-Eiseb het op 22 Desember in die hof op Swakopmund verskyn. Die ondersoek duur voort.

Die polisie ondersoek ‘n saak van poging tot moord teen me. Meschtilde Musole (28). Musole is in hegtenis geneem nadat sy na bewering probeer het om haar twee kinders, onderskeidelik ses jaar en een jaar en nege maande oud dood te maak en wou selfmoord pleeg deur ‘n oordosis antiretrovirale (ARV) tablette te drink. Sy is in die hospitaal opgeneem en nadat sy ontslaan is, het sy op 19 Desember in die hof op Walvisbaai verskyn. Musole is borg geweier en die saak is tot 9 Januarie 2017 vir verdere ondersoek uitgestel. Die kinders is ook uit die hospitaal ontslaan en in die sorg van familielede geplaas.

Musole het na bewering probeer om haar kinders op 9 Desember by huisnommer 21, Johannes Namupala-straat in Kuisebmund ‘n mengsel van ARV-medikasie, in water opgelos, te gee,

Sy wou dit oënskynlik doen omdat die pa van die kinders hulle nie finansieel wou ondersteun nie. Sy het ook probeer om ‘n oordosis te neem. Sy het ‘n familielid per SMS van haar voorneme in kennis gestel, wat op hulle beurt die polisie laat weet het.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!