Driejarige ruitertjie steel harte op kompetisie

Perdesport
Madli Grobbelaar - Die klein en fyn driejarige Inke Krüger van Riebeeckstad en haar ponie Frodo het harte gesteel toe sy as jongste ruitertjie aan ’n onlangse ruiterkunskompetisie in Bloemfontein deelgeneem het.

Sy het uitstekend gevaar op die kompetisie van die Suid-Afrikaanse nasionale perdryvereniging (Sanesa) en twee eerste plekke en een tweede plek in haar ruiterkunsitems verwerf.

Volgens haar ma, Ida, ken dié kordate ruitertjie reeds die ruitersport se reëls en regulasies en het sy verlede jaar al vir die eerste keer aan ’n kompetisie deelgeneem.

Op die Vrystaatse ruiterkunskampioenskap in Bloemfontein het sy twee eerste plekke in haar onderskeie ruiterkunsitems verower.

Sy en haar ponie Frodo oefen drie dae per week.

Inke word deur Ida en Lizandra Sherman van Klerksdorp afgerig. Sherman is ook ’n gekwalifiseerde perdeskoubeoordelaar.

Inke en Frodo oefen reeds die afgelope twee jaar saam en vorm ’n gedugte span. Sy besoek haar ponie minstens vyf dae van die week om hom te borsel en te vertroetel, vertel Ida.

Sy het vir die eerste keer op vier maande saam met haar ma op ’n perd se rug geklim.

Frodo het sy as geskenk op haar eerste verjaardag ontvang en op ’n jaar oud kon sy al alleen op haar ponie sit.

Sy is so klein dat haar ruiter-uitrusting spesiaal vir haar gemaak moet word. Die driejarige weeg net 10 kg.

Ida sê die sport het negatiewe en positiewe elemente en kan ook baie gevaarlik wees.

“Ons konsentreer egter op die positiewe soos dat kinders selfbeheersing en dissipline leer. Inke leer ook om verantwoordelikheid vir haar ponies te aanvaar en om hulle te versorg.”

Ida is self ’n kranige perderuiter wat ook op een jaar oud al op ’n perd se rug geklim het.

Haar oupa Tom Yzel het Ida se liefde vir perdry gekweek terwyl sy nog in doeke was met ’n fopspeen in die mond. Sy was op die ouderdom van agt ’n nasionale kampioen en het al op 13 jaar op die voorblad van Volksblad gepronk.

Inke se pa, Casper, ’n prokureur in Welkom, is haar grootste ondersteuner al ry hy nie self perd nie.

Haar boetie, Casper junior (18 maande oud), word reeds op Inke se ponie rondgelei. Klein Casper geniet dit egter meer om op ’n motorfiets te kerjakker.

Ida sê Inke het ’n ingebore liefde vir diere. Sy het ses honde, ’n kat, voëltjies, hasies en twee perde.

Buiten perdry geniet sy ook ballet en speel sy vir haar skooltjie netbal.

Sy hou van die buitelewe, modderkoekies bak en om boekies op die gras onder die bome deur te blaai.

“Frodo is haar beste vriend en hulle deel graag NikNaks en Zoo-koekies. Die ponie is immers deel van ons gesin!” sê Ida. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!