Droogte kos landbou in Wes-Kaap byna R6 mjd.
Droogte kos landbou in Wes-Kaap byna R6 mjd.

Droogte kos landbou in Wes-Kaap byna R6 mjd.

Die droogte, voëlgriep en landboupeste lei tot reuseverlies in die landbou in die Wes-Kaap.
Malherbe Nienaber - Die droogte in die Wes-Kaap sal die landboubedryf na raming tot R5,9 miljard kos, terwyl die totale produksievolumes vanjaar waarskynlik 20% minder sal wees.

Alan Winde, Wes-Kaapse LUR vir landbou, sê boonop was daar ’n jaar-op-jaar-verlies van 57 000 werkgeleenthede in die landbou. Vroue, wat dikwels as seisoenale werkers die broodwinners is, word gewoonlik die hardste getref.

“Ons is dankbaar dat die regering besluit het om ’n nasionale ramp aan te kondig en weet dat R6 miljard aan droogtegeteisterde provinsies beskikbaar gemaak is. Hoewel dit nog onduidelik is hoeveel ons sal kry, pleit ons dat dit aan die projekte by die Brandvleidam en Clanwilliamdam toegewys sal word.”

Die Brandvleidam-projek sal sowat R15 miljoen kos en sorg vir besproeiing vir ’n bykomende 4 400 ha wat 8 000 werkgeleenthede sal skep.

Met dié projek sal die inlaatkanaal van die Brandvleidam, suid van Worcester, verhoog word sodat meer water aan die Groter Brandvlei-besproeiingsprojek gelewer kan word.

Winde het herhaal dat die landbou die hardste deur die droogte getref is, terwyl dit van groot belang vir die provinsie se ekonomie, voedselsekerheid en landelike huishoudings is.

Voëlgriep en verskeie landboupeste het veroorsaak dat die sektor tans deur ’n “baie moeilike tyd gaan”.

“Dit is ’n gebeurtenis wat een keer elke 400 jaar sou kan voorkom, en wat almal – van megaboere tot bestaansboere, tot die man op die straat – gelyk gemaak het.

“Die droogte het ook belangrike lesse opgelewer wat ons hopelik sal help gereedmaak vir ’n toekoms waarin hulpbronne meer doeltreffend en volhoubaar gebruik word.”

Landbou en landbouverwerking sorg vir 52% van die Wes-Kaap se uitvoere en verteenwoordig 10% van die provinsie se bruto binnelandse produk, terwyl 340 000 mense in die bedryf werk.

Die provinsiale departement het meer as R100 miljoen in noodleniging gebied wat aangewend is om voer te koop en in sommige landelike gebied water te voorsien of boorgate te sink.

Daarby is R136 miljoen se rampgeld van die nasionale regering vir die boekjaar 2018/’19 gevra en daar sal ná die aankondiging oor die nasionale ramp verder ondersoek ingestel word om nog geld te kry. Dit kan aangewend word om ander tydelike werk te verskaf aan plaaswerkers wat weens die droogte werkloos gelaat is.

“Dié sektor is noodsaaklik vir plattelandse ekonomieë en ons moet seker maak dat ons in dié moeilike tyd bystand daaraan verleen. Maar selfs wanneer die reën uiteindelik uitsak, bly Suid-Afrika ’n waterskaarsland. Na verwagting sal die Wes-Kaap net droër word en ons moet ons voorberei op ’n toekoms waarin klimaatsverandering ’n werklikheid is.”

Teen verlede Maandag was die Brandvleidam slegs 5,6% vol teenoor 15,9% in dieselfde tydperk verlede jaar.

Die Clanwilliamdam in die noorde van die provinsie staan op 6,17%, teenoor 20% in 2017.

Winde sê om grond te hê beteken niks sonder toegang tot water om die grond te besproei nie. Om dié rede gaan projekte soos by die Brandvleidam “nie net oor water nie maar ook oor grondhervorming”. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!