Duanne plant doodskoot teen Pakistan
Krieket
Tinus van Staden - Die naam Duanne Olivier sal vir lank nog by die Pakistanse krieketspan spook.
Dié Protea-snelbouler (3/74 in 15 boulbeurte) het die besoekers se strot gisteroggend op dag vier van die derde toets in die Wanderers uitgeruk met twee paaltjies met agtereenvolgende aflewerings.
Eers het hy deurgebreek en die dreigende vennootskap van 58 tussen Asad Shafiq (65) en Babar Azam (21) beëindig deur met 'n goeie kort aflewering van Azam ontslae te raak.
Net daarna het hy die kaptein, Sarfraz Ahmed, vir 'n nulletjie skoongeboul. Toe was dit neusie verby vir Pakistan.
Paaltjies deur Kagiso Rabada (3/75 in 16) en Vernon Philander (1/41 in 14 bb) het ook daartoe bygedra dat Pakistan van sy oornagtelling van 153/3 tot 273 almal uit verkrummel het, al het die nr. 7-kolwer, Shadab Khan (47*), die Proteas vir 'n wyle saam met die stert gefrustreer.
Suid-Afrika het die derde toets dus met 107 lopies gewen en die reeks met 3-0, wat dié span na die tweede plek op die wêreldranglys sal laat opskuif.
DODELIKE DUANNE
Olivier se ongelooflike 24 paaltjies in dié reeks is die naasmeeste nóg deur 'n Suid-Afrikaner in 'n reeks van drie toetse.
Charlie Llewellyn, 'n draaibalbouler, het in Oktober en November van 1902 altesaam 25 paaltjies in 'n reeks van drie toetse teen Australië platgetrek.
Die grootsheid van Olivier se uitstekende vertoning in dié reeks durf nie onderskat word nie.
Voor dié reeks het Olivier se twee meer geroemde snelmaats – Dale Steyn en Philander – die gesamentlike tweede plek op dié lys beklee.
In die 2010/'11-seisoen het Steyn 21 paaltjies in 'n reeks van drie toetse teen Indië in Suid-Afrika platgetrek.
Philander het dieselfde aantal slagoffers in 'n reeks teen Nieu-Seeland in Nieu-Seeland in 2012 geëis.
Die punt kan wel gemaak word dat Steyn sy paaltjies platgetrek het teen 'n baie sterker kolflys as die huidige Pakistanse kolflys. Sachin Tendulkar, Rahul Dravid, Virender Sehwag, VVS Laxman en Gautam Gambhir is gewis nie 'n Mickey Muis-kolflys nie.
Op sy beurt het Olivier sy prestasie as die groentjie in 'n boulaanval bestaande uit drie van die wêreld se beste snelboulers behaal.
Hy is boonop gevra om as aggressor op te tree, dus om met ongelooflike vaart te boul en balle met reëlmaat kort te plant. Dít verg ongelooflike fisieke inspanning.
Olivier het vir Ottis Gibson, die Protea-breier, 'n lekker tameletjie gegee voordat Sri Lanka volgende maand hier aanland. Lungi Ngidi behoort fiks te wees vir dié reeks en met die toetse wat in Durban en Port Elizabeth beslis word, sal die draaier Keshav Maharaj boonop weer in berekening kom.
Maar om Olivier ná dié reeks weg te laat, sal aan sonde grens. Veral teen nog 'n span van die subkontinent met 'n brose kolflys.
Olivier was ongetwyfeld die hoofkarakter in dié reeks. Die ander belangrike rolspelers se bydraes kan egter nie misken word nie.
Dale Steyn het in die eerste toets uiteindelik verby Shaun Pollock (421) se rekord van toetspaaltjies vir Suid-Afrika geskuif. Op die Wanderers het hy ook geklim op die wêreldlys vir voorste paaltjievrate. Hy bevind hom nou in die gesamentlike 8ste plek op dié lys, saam met Rangana Herath van Sri Lanka en Staurt Broad van Engeland wat ook albei 433 toetspaaltjies het. Steyn het Richard Hadlee van Nieu-Seeland (431) in dié toets verbygesteek.
ONBESONGE KOLFHELDE
Suid-Afrika plaas die onus in tuisreekse deesdae op sy snelboulers, so dit is te verstane dat die kolwers hul werk soms buite die kollig verrig.
Die Protea-kolflys was nietemin skitterend in dié reeks.
Die ganse topsewe, buiten Zubayr Hamza wat net in die laaste toets gespeel het en Theunis de Bruyn wat in dié toets vir 49 uit is, het die vyftigkerf minstens een keer verbygesteek.
De Bruyn was egter die mees teleurstellende kolwer en sal sy sokkies moet optrek as hy weer 'n kans kry.
Temba Bavuma, Aiden Markram en Hashim Amla was puik met twee vyftigtalle elk. Faf du Plessis het 'n skitterende honderdtal in Kaapstad geslaan.
Quinton de Kock was die Proteas se voorste lopiemaker met 251 lopies teen 'n gemiddeld van 62.75. Dít sluit 'n uitstekende honderdtal in Johannesburg en 'n vyftigtal in.
Die kolwers moes boonop op uitdagende kolfblaaie en het teen 'n vaardige boulaanval kolf. Dit is verblydend om te sien hoe goed die kolflys mekaar aanvul.
Daar is spelers soos Dean Elgar en Amla wat laer kan trek, Bavuma wat die span uit 'n krisis kan help, Du Plessis wat altyd kalm is, Markram wat vinnig lopies aanteken met aanskoulike houespel en De Kock wat met vrye kolfwerk die finale spyker in die doodskis slaan.
Die teenstanders was nie te watwonders nie, maar die Proteas moes steeds die taak op die veld verrig. Dít het hulle met onderskeiding gedoen, sonder om vir 'n oomblik te lyk of hulle nie in beheer is nie. - Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie