Duo gerat vir Aussieland
Duo gerat vir Aussieland

Duo gerat vir Aussieland

Die Namibiërs is oorgehaal om hul merk te maak by die wêreldbyeenkoms.
Tielman van Lill
Tielman van Lill - Will Esterhuizen en Marietjie van den Bergh is oorgehaal om vanaf komende Maandag tot 5 November in Nieu-Suid-Wallis in Australië saam met 52 hoopvolles van 32 lande aan die 2018 Kampioen van Kampioene-wêreldtoernooi deel te neem.

Die uitklopstryd tussen die enkelspelkampioene van al die deelnemende lande word vanjaar vir die 16de keer aangebied en die Namibiërs sal in Sydney by die uitnemende St. John's Park-rolbalklub die geleentheid kry om hul landsvlag hoog te laat wapper.

Esterhuizen sal sy korrelwerk teen 27 manlike spelers moet ken, terwyl Van den Berg teen 23 ander vroue in kompetisie sal wees.

Esterhuizen vertrek môre Doer Onder toe, terwyl Van den Bergh, die huidige Afrika-titelhouer wat van Tsumeb afkomstig is, reeds vroeër vertrek het om haar met die plaaslike omstandighede vertroud te maak.

Kwalifiserende rondes word die eerste vyf dae gespeel, met die semifinale wat op 3 November voorlê. Die eindstryde vir beide mans en vroue word die volgende dag beslis.

Benewens die twee Namibiërs word die Afrika-vasteland deur Wayne Ritmüller en Leone du Rand (Suid-Afrika), Joseph Nthobelang en Deline Kitsisso (Botswana), Aaron Chilundo en Ursula Gripper (Zimbabwe) asook Kevin Riddiford (Zambië) verteenwoordig.

Dié jaarlikse wêreldkampioenskap is in 2003 vir die eerste keer in Australië by Moama aangebied waar Douw Calitz van Namibië as die enkelspel manskampioen bekroon is. Calitz is steeds een van die land se mees gerekende spelers wat gereeld op internasionale vlak meeding.

Afgesien van Calitz se groot triomf, het Esterhuizen waarskynlik die beste prestasie deur 'n Namibiër gelewer deur sewende plekke in 2012 (Ciprus) en 2016 (Brisbane) tydens sy twee vorige deelnames te behaal. Dit terwyl die topses vir die uitklopfase van die kompetisie kwalifiseer. Esterhuizen is opnuut vasberade om met sy derde probeerslag nóg 'n trappie beter te vaar.

Esterhuizen en Van den Bergh het gekwalifiseer om die bestes ter wêreld die stryd aan te sê, deurdat hulle verlede jaar die nasionale enkelspelkampioenskap gewen het. Namibië se pas gekroonde 2018-kampioene, Diana Viljoen en Cabous Olivier, het nou 'n jaar om geld in te samel en voor te berei op hul reis na Adelaide, Australië volgende jaar.



GUNSTELINGE

Vanjaar is Jo Edwards van Nieu-Seeland, wat in 2011 die vroue-titel in Hongkong gewen het, goed op peil en kan wéér die goue medalje inpalm. Sy het vanjaar reeds by die Statebondspele goud in die enkelspelafdeling opgeraap.

Aan die manskant is haar landgenoot Shannon Mcllroy ook die verdedigende enkelspel wêreldkampioen en is beslis een van dié mans om vir die titel te klop.

Nog mansdeelnemers wat dopgehou kan word, sluit in Mark Wilson (Ierland), Charlie Herbert (VSA), Todd Priaulx (Guernsey) en die Suid-Afrikaanse kampioen Wayne Ritmüller.

By die vroue word Carmen Anderson (Norfolk-eilande), Kirsty Richards (Engeland), Anne Nunes (VSA) en Judith Wason van Wallis as die gevaarlike kandidate gereken.

Colleen Orr van Australië maak vanjaar geskiedenis as die eerste vrouespeler uit die Northern Territories wat by die wêreldkampioen­skap gaan aantree, terwyl haar manlike eweknie Lee Schraner van Tasmanië ook van 'n klein klub afkomstig is.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!