ECN maak reg vir EVM-verkiesing

Waarnemers het gister 'n oorsig gekry oor wat aanstaande Woensdag moet gebeur.
Denver Kisting
Denver Kisting



Die voorsitter van die Verkie-singskommissie van Namibië (ECN), adv. Notemba Tjipueja, sê hulle kan nie die kiestribunaal se beslissing vooruitloop nie.

Maar, sê sy, die nasionale kiesliggaam is gerat om volgende Woensdag se presidensiële en Nasionale Vergadering (NV)-verkiesings met elektroniese stemtoestelle (EVM's) te behartig.

“Die wet laat ons toe om verkiesings met EVM's te hou,” het sy gister gesê.

Die onafhanklike presidensiële kandidaat, die tandheelkundige dr. Panduleni Itula, het die ECN dié week voor die kiestribunaal gedaag om die kiesliggaam onder meer te dwing om afstand van EVM's te doen.

Elke EVM kan 'n maksimum van 2 000 stemme huisves.

Die ECN het gister plaaslike en internasionale verkiesingswaarnemers in Windhoek op die hoogte gebring van wat reeds vanjaar op die kieskalender gebeur het, en wat na verwagting volgende week sal gebeur.

Op 'n vraag oor die oortreding van die gedragskode vir politieke partye het Tjipueja gesê: “Die onus is op partye om voorvalle aan te meld. Ons as die ECN kan nie die klaers word nie.”

Dít ondanks die feit dat net Swapo en die National Democratic Party dié kode onlangs op die ECN se uitnodiging onderteken het.

Die voorsitter het voorts gesê 'n pre-stemtoets word op 27 November om 06:00 by elke stempunt gedoen.

Sy het politieke partye en hul agente aangemoedig om van dié geleentheid gebruik te maak.

Verkiesingswaarnemers moet een maand ná die verkiesings hul waarnemingsverslae indien, het sy gesê.

Volgens genl.maj. Oscar Embubulu, 'n adjunk-inspekteur-generaal van die Namibiese polisie, sal die Namibiese weermag (NDF) Woensdag op bystand wees om die polisie by te staan “sou enigiets gebeur”.

Me. Carola Engelbrecht, 'n waarnemer, wou weet hoekom die NDF verlede week saam met die polisie gestem het.

Seevarende personeel, korrektiewe beamptes en Namibiërs in die buiteland het ook op 13 November gestem.

Mnr. Theo Mujoro, die hoofkiesbeampte, het op sy beurt verduidelik sommige kiesafdelings is so groot dat dit meer as een stempunt regverdig.

Geregistreerde kiesers wie se kieskaarte voor of op Dinsdag beskadig word of wegraak, kan tot dan om 'n duplikaat aansoek doen.

In die verlede kon duplikate net in Windhoek bekom word. Vanjaar het hulle dié proses na die streke toe uitgebrei, het Mujoro gesê. Geen duplikaat sal op stemdag uitgereik word nie, het hy gesê.

Mujoro sê hulle beskik oor genoeg vervoer om alle stemmateriaal by stempunte te kry. Hulle het egter 'n tekort aan vervoer vir hul stemspanne. Gevolglik het die ECN hulle tot Jan en San Alleman gewend om padwaardige voertuie teen 'n dagfooi be-skikbaar te stel.

Die hoofkiesbeampte het gesê hy hoop al 1 358 468 geregistreerde kiesers neem aan vanjaar se verkiesings deel.

Dít sal 'n eerste vir die land wees.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!