ECN oor integriteit gelooi

Dit is onseker of dr. Panduleni Itula teen die verkiesingstribunaal se uitspraak kapsie wil maak.
Denver Kisting
Denver Kisting – Hoewel die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) en die elektroniese stemtoestelle (EVM’s) gister oorwin het, het die kiesliggaam se integriteit in die slag gebly.

So sê die Windhoekse prokureur, mnr. Norman Tjombe.

Mnr. McHenry Venaani, leier van die Popular Democratic Movement (PDM), het gesê hulle sal nie aan die verkiesings onttrek nie, maar hy meen die proses sal nie deursigtig wees nie.

Intussen het mnr. Henry Shimutwikeni, dr. Panduleni Itula se prokureur, gister gesê hy het nog geen aanduiding oor of sy kliënt die saak wil verder voer nie.

Me. Ella Nghifindaka, Itula se veldtogbestuurder, het eweneens nie op navrae in dié verband gereageer nie.

Dít kom nadat landdros Uajo Uanivi, voorsitter van die verkiesingstribunaal, gister ten gunste van die gebruik van EVM’s in môre se verkiesings beslis het.

Volgens Uanivi kon Itula nie die tribunaal oortuig dat sy aansoek óf dringend óf verskriklik dringend is nie.

Hy het voorts gesê die verkiesingstribunaal is die verkeerde platform om te beslis in sake wat te doen het met die hersiening van die werksaamhede van die ECN.

Boonop het hy Itula se aansoek met koste van die hand gewys.

Dit beteken die tandarts en onafhanklike presidensiële kandidaat moet opdok vir die ECN se regspan, wat een prokureur, ’n advokaat en ’n senior advokaat insluit.

Itula het nie gister se verrigtinge bygewoon nie.

Uanivi sê hoewel hy vir Itula en mnr. Hewat Beukes van die Workers’ Revolutionary Party (WRP) gelyk gee dat hul basiese regte gerespekteer en in stand gehou moet word, moet dié twee mense nie hofprosesse misbruik om daardie regte op te eis nie.

“Verkiesingsprosesse is sensitiewe en delikate nasionale oefeninge wat deur almal met die sensitiwiteit wat dit verdien, hanteer moet word.”

Veral omdat Itula deur opgeleide regslui verteenwoordig is, sou hy die gevaar moes voorsien om ’n geding voor ’n verkeerde hof te bring, het Uanivi gesê.

Adv. Notemba Tjipueja, voorsitter van die ECN, kan ook nie verantwoordelik gehou word vir EVM’s wat in 2017 in Swapo se besit glo van ’n sleepwa getuimel het nie, lui die tribunaal se beslissing.

“Die aansoeker (Itula) is ’n akademikus, wat geen uitdagings behoort te hê om te verstaan waarvoor ons wette voorsiening maak en wat nie.”

Boonop behoort iemand wat die hoogste pos in die land wil beklee, te weet tot watter platform hy hom moet wend as hy gebreke in bestaande wetgewing wou pak, het Uanivi gesê.

Volgens hom kan die tribunaal nie beslissings maak wat nie deur die wet, waaruit dié hof spruit, gemagtig word nie.

Uanivi het met die ECN se regspan saamgestem dat die nasionale kiesliggaam reeds op 1 Augustus 2014 amptelik besluit het om van EVM’s gebruik te maak.

Gevolglik is dié toestelle reeds tydens die vorige presidensiële en Nasionale Vergadering-verkiesings vyf jaar gelede gebruik.

Itula het ook met geen bewyse vorendag gekom dat die EVM’s gebreke het wat tydens die spesiale verkiesings op 13 November gebruik is nie.

Seevarende personeel en lede van die Namibiese polisie, die weermag en korrektiewe dienste het op daardie dag reeds deur middel van EVM’s gestem.

Namibiërs wat op dieselfde dag by buitelandse sendings gestem het, het van tradisionele stembriewe gebruik gemaak.

Itula is bekend daarvoor om die Grondwet, die land se oppergesag, ruimskoots uit sy kop aan te haal.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!