Einde van Takata, maar nie sy probleme
Foutiewe lugsakke wat deur Takata vervaardig is, en tot die herroeping van duisende voertuie gelei het, het sy tol geëis.
Die omstrede Japannese maatskappy Takata se naam gaan binnekort verdwyn nadat die Chinese maatskappy Joyson Key Safety Systems (Joyson KSS) die groen lig vir sy verkryging van dié vervaardiger van veiligheidsgordels en lugsakke gekry het.
Dit beteken egter nie die einde van Takata se probleme nie.
Die Suid-Afrikaanse Mededingingskommissie het Woensdag in 'n verklaring gesê dat hy die oorname goedgekeur het, wat luidens Bloomberg US$1,5 miljard beloop.
Hoewel die transaksie tussen twee internasionale maatskappye is, is Takata Suid-Afrika die enigste filiaal van die Takata Corporation en moes daar dus goedkeuring van die plaaslike owerhede vir die transaksie verkry word.
Lugsakke
Takata is die afgelope ruk wêreldwyd in die moeilikheid weens foutiewe lugsakke wat hy aan verskeie motorvervaardigers verskaf het. Weens vogtigheid wat in dié lugsakke kan opbou, kan die toestel wat dit vol lug blaas in 'n ongeluk bars, wat stukkies metaal deur die lugkussing kan laat skiet en so insittendes kan beseer.
Miljoene voertuie is al wêreldwyd hieroor herroep.
In Suid-Afrika het Toyota meer as 730 000 voertuie herroep.
Honda, Mazda en Nissan in Suid-Afrika het ook reeds motors om dieselfde rede herroep.
Takata het in Junie 2017 in die VSA en Japan aansoek om beskerming teen bankrotskap gedoen nadat hy onder die druk van die herroeping van miljoene voertuie geswig het. Dié proses is soortgelyk aan die sakereddingsproses in Suid-Afrika.
Joe Perkins, finansiële hoof van Joyson KSS, het verlede jaar toe die besluit geneem is om Takata te koop, gesê hy glo dat die maatskappy behoorlike beskerming het en nie aanspreeklik gehou sal word vir die herroeping van die lugsakke nie.
Samespanning
In Suid-Afrika is Takata verder in die pekel nadat die Mededingingskommissie die Mededingingstribunaal gevra het om die Takata Corporation en sy plaaslike tak, Takata Suid-Afrika, te vervolg.
Die kommissie het Woensdag in 'n verklaring gesê dit hou verband met vier afsonderlike voorvalle van beweerde prysvasstelling, markverdeling en samespanning oor tenders.
Die vier kontrakte wat tussen 2007 en 2008 gesluit is, was vir lugsakke, veiligheidsgordels en stuurwiele met lugsakke vir die BMW X3 en die Honda CRV, en veiligheidsgordels vir die Honda Civic en die Toyota Yaris.
Die Mededingingskommissie sê hy wil hê die tribunaal moet Takata beboet sou hy aan samespanning skuldig bevind word.
Die Mededingingskommissie sê in die lig van dié twee kwessies, die herroeping van voertuie oor die lugsakke én die klagte oor samespanning, wou hy verseker dat Takata nie sy verpligtinge omseil wanneer hy aan Joyson KSS verkoop word nie.
Die kommissie sê hy het besluit om ondanks sy kommer oor samespanning, wel goedkeuring vir die transaksie te gee. Hy sê hy het egter duidelike voorwaardes gestel wat sal verseker dat Takata steeds verantwoordelik sal wees vir enige boete wat hom opgelê word, sou hy skuldig bevind word.
Joyson KSS het reeds verlede jaar gesê hy gaan van die naam Takata ontslae raak.– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie