'Ek het my kinders met 'n mes gesteek'
'Ek het my kinders met 'n mes gesteek'

'Ek het my kinders met 'n mes gesteek'

Twee polisiebeamptes het gister getuig in die verhoor van die voormalige polisieman wat daarvan beskuldig word dat hy sy eie seuns vermoor het.
Jacqueline Louw
Jacqueline Louw



Konstabel Pasteven Kauandenge, 'n kollega van mnr. Albertus !Ganeb (31), het gister in die hoërhof in Windhoek voor regter Dinnah Usiku getuig dat !Ganeb hom op 25 April 2014 gebel het en aan hom gesê het: “Ek het my twee kinders met 'n mes gesteek en albei van hulle is dood.”

!Ganeb, 'n voormalige polisiekonstabel wat daarvan beskuldig word dat hy sy twee seuntjies, Tertius Romeo Shaun Swartz (7) en Gregory O'Grady Holmes Swartz (4), vermoor het, het volgens Kauandenge na dié skokkende mededeling 'n SMS-boodskap aan hom gestuur wat lui: “Ek grap.”

Op Kauandenge se vraag hoekom hy sulke grappe maak, het !Ganeb glo nie geantwoord nie.

Kauandenge het getuig dat hy die beskuldigde, 'n voormalige kollega, goed geken het en dat hulle “saam gewerk en saam gespeel het”.

Op die noodlottige dag het !Ganeb hom om ongeveer 12:00 gebel en genoem dat hy na die Kanaän-woonbuurt in Gobabis op pad is, het Kauandenge aan die hof vertel.

Kauandenge het getuig dat hy ná verskeie ure 'n SMS-boodskap van !Ganeb gekry het wat lui: “Ek gaan vandag dood, bra.”

Kauandenge het aan die hof vertel dat hy vir !Ganeb versoek het om met hom te praat, waarop hy reageer het: “Ag, wag eers, ek is eers kwaad, my broer.”

Ná die skokkende mededeling dat hy sy kinders vermoor het, het !Ganeb ook 'n boodskap gestuur waarvolgens hy N$300 wou leen, het Kauandenge aan die hof vertel.

Hy het !Ganeb gebel om te sê dat hy nie die geld het nie, het hy getuig.

Hulle het nie weer met mekaar gepraat nie en Kauandenge het net later gehoor dat !Ganeb in hegtenis geneem is.

Adjudant-offisier Gayle Shitumvuleni, 'n speurder, het getuig dat sy op 25 April 2014 na !Ganeb se huis gegaan het om hom te waarsku om op te hou om dreigende SMS-boodskappe aan mnr. Festus Nekongo, !Ganeb se eksmeisie en die ma van sy kinders, se nuwe vriend, te stuur. Shitumvuleni het getuig dat Nekongo 'n klag oor dié dreigemente by die polisie aanhangig gemaak het.

Met haar aankoms by !Ganeb se huis het Shitumvuleni die gru-ontdekking van die twee slagoffers gemaak.

Dit is die staat se saak dat !Ganeb die twee kinders in 'n mesaanval op 25 April 2014 op Gobabis doodgesteek het. Die oudste seuntjie het gesterf nadat hy vier keer met 'n mes gesteek is. Die jonger kind is ernstig beseer nadat hy ses keer met 'n mes gesteek is en hy het op 1 Mei in 'n hospitaal in Windhoek gesterf.

!Ganeb word ook daarvan be­skuldig dat hy die twee seuntjies se moeder, me. Romilly Swartz, in Oktober 2013 en in 2014 aangerand het.

Mnr. Boris Isaacks tree namens !Ganeb op en advokaat Palmer Kumalo verteenwoordig die staat.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!