Ekonomie: Regering nié agtelosig
Reeds 45% besparings aan kapitale besteding
Estelle de Bruyn - Pres. Hage Geingob sê die finansiële probleme wat die land ondervind, is nie omdat die regering “agtelosig” was nie.
Dit is die gevolg van internasionale verswakking van ekonomië en kommoditeitspryse wat skerp gedaal het.
Desondanks het die regering met ’n omvattende proses begin om te kyk waar bespaar kan word en alle tenders te kanselleer wat verdag voorkom.
“Daar is heelwat vermorsing en ons hersien alle uitgawes. Indien enige onetiese optrede met die toekenning van tenders opgemerk word, sal dit gekanselleer word.
“Daar is ook probleme met sommige maatskappye wat in Amerikaanse dollar getender het, en met die daling van die Namibiese dollar teen die Amerikaanse dollar het die koste van sekere tenders eksponensieel gestyg,” het Geingob gesê.
Die begrotingshersiening wat volgende maand in die Nasionale Vergadering ter tafel gelê sal word, sal onder meer ook ’n besnoeiing in buitelandse besoeke meebring.
Wat betref Geingob en sy afvaardiging se reis na Amerika, waar hy onder meer die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies sal toespreek, sê hy sy kantoor het self die mes ingelê om besnoeiings teweeg te bring.
Sy afvaardiging is aansienlik verklein en bestaan nou net uit 33 mense, insluitende veiligheidspersoneel. Hy het ook besluit om nie in die Waldorf Astoria-hotel in Manhatten tuis te gaan teen US$10 000 per nag nie, maar eerder ’n woonstel teen US$1 100 per nag te huur.
“Die afgelope jare was sommige lande se groeikoers bo die tien persent. Nou is die gemiddelde groeikoers vir Afrika suid van die Sahara 1,6 persent. Handel in die streek en verminderde uitvoere het ’n impak op ons gehad. Hierbenewens het fluktuasies in die wisselkoers ons benadeel. Dit is deur beleidsbesluite elders beïnvloed wat buite ons beheer was,” het die minister van finansies, mnr. Calle Schlettwein, gesê.
Hy het daarop gewys dat die regering reeds daarin geslaag het om sy operasionale besteding met 45 persent in te perk.
“Die afwaartse neiging in die ekonomie het vinniger gekom as wat ons kon voorsien. Tog kan ons die gerustelling gee dat Namibië se groeikoers steeds beter as ons buurstate s’n is.
“Ons het die skok van ’n dreigende afgradering deur internasionale ontleders gehad, maar ons is nog nie afgegradeer nie en word steeds as kredietwaardig geag. Die uitdaging is nou om dit so te hou,” het hy gesê.
Geingob het by dieselfde geleentheid gesê sy salaris sal eersdaags in die Staatskoerant gepubliseer word. Vroeër vanjaar het hy by navraag gesê hy weet nie wat hy verdien nie. Hy het ook bekend gemaak dat 34 persent van sy salaris vir welsyn bewillig word.
Die “One Economy”-stiging van die president se gade, me. Monica Geingos, ontvang maandeliks N$20 000.
’n Verdere N$30 000 van die president se salaris word aangewend om weerlose bejaardes in Tsumeb, Otavi, Otjiwarongo, Grootfontein en Kalkfeld by te staan. Die begunstigdes is deur die burgemeesters en raadslede van hierdie dorpe gekies.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie