Ekonomiese paneel oorhandig verslag
Augetto Graig - Die voorsitter van die hoëvlakpaneel oor die Namibiese ekonomie, mnr. Johannes !Gawaxab, het gister hul finale verslag en aanbevelings aan pres. Hage Geingob oorhandig. Na die president in April 2019 die paneel saamgestel het om die sukkelende ekonomie te red, het die paneel hul eerste verslag in Junie verlede jaar aan hom oorhandig. Van die 15 oorspronklike aanbevelings, is 13 deur die regering aanvaar, en die ministerie van binnelandse sake en immigrasie het spoedig aanpassings gemaak, sê !Gawaxab. ’n Tweede verslag is ná die ekonomiese beraad vroeg in Augustus 2019 aan pres. Geingob oorhandig. Uit byna N$20 miljard beleggings wat belowe is, het sowat N$2,2 miljard reeds Namibië ingevloei, sê hy. In die finale verslag beoog 10 aanbevelings strukturele aanpassings om werkloosheid, ongelykheid en armoede aan te spreek. Volgens !Gawaxab beleef Namibië se ekonomie moeilike tye en as dit toegelaat word om so voort te gaan kan dit tot onstabiliteit lei. “Met geskikte beleide en bekwame mense kan dié lokvalle vermy word,” sê hy. - [email protected]
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie