Epic-fietstoer: Druk? Watter druk?
Epic-fietstoer: Druk? Watter druk?

Epic-fietstoer: Druk? Watter druk?

Bergfietsry
Annchen Nel - Met nog net 'n week voor die Cape Epic-bergfietstoer in die Wes-Kaap begin, voel Suid-Afrika se groot titel-aanspraakmakers in die vrouekompetisie nog nie die druk nie.

Daar is groot verwagtinge en opgewondenheid noudat 'n sterk Suid-Afrikaanse vrouespan tot stand gekom het. Mariske Strauss en Candice Lill sal as die Faces CST-span deelneem en het hul visier op die voorste algehele plek.

Die laaste keer toe 'n Suid-Afrikaanse vrou boaan die podium gestaan het, was in 2013 toe Yolande Speedy saam met haar Britse spanmaat Catherine Williamson geseëvier het.

Daarna was dit buitelanders wat goud verower het: Annika Langvad, Ariane Lüthi, Esther Süss, Jennie Stenerhag, Kate Courtney en Anna van der Brggen.

Lill (28) het verlede jaar algeheel tweede geëindig saam met die Duitser Adelheid Morath.

Strauss (ook 28) was ook al 'n strooimeisie toe sy in 2017 tweede was saam met die Brit Annie Last. Hulle was in 2018 derde en verlede jaar was Strauss se spanmaat die Sweed Stenerhag vir 'n vyfde plek.

Die voorste span wat in 2019 uit twee Suid-Afrikaners bestaan het, was Theresa Ralph en Sarah Hill, wat sesde geëindig het.

Daarom was dit groot nuus toe Strauss en Lill se spanne en borge 'n ooreenkoms kon bereik om 'n nuwe span te vorm.

Die nuwe span het reeds verlede maand sukses gesmaak toe hulle vir die eerste keer saamgetrap en die vierdaagse Tankwa Trek in die Koue Bokkeveld gewen het.

“Alles het seepglad verloop in die Tankwa. Ons het baie lekker saamgery,” sê Strauss.

In 'n skofwedren van agt dae moet baie in jou guns verloop om sukses te behaal.

Strauss sê in die Epic is daar baie eksterne faktore wat betrokke is.

“Jy kan net fokus op dít wat jy kan doen. Ons wil 'n skoon en veilige wedren hê.

“Ons doelwit is om op die boonste trappie van die podium te staan. Ons is beslis daartoe in staat, maar plaas nie onnodige druk op onsself nie.”

Strauss het voorverlede week aan die Andalucia-skofwedren in Spanje deelgeneem, waar sy tweede geëindig het. Sy het nou haar voorbereiding afgesluit, sê sy.

Lill het die afgelope Sondag vyfde in die Kaapstad-fietstoer-padwedren klaargemaak.

Vanjaar se Epic begin Sondag met 'n tydtoets in Kaapstad. Van daar strek die roete deur Ceres, Tulbagh en Wellington, met die eindpunt Val de Vie buite die Paarl. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!