Eurowings land op 20 September
Eurowings land op 20 September

Eurowings land op 20 September

Twee internasionale lugredery het bevestig hulle bring internasionale toeriste weer na Namibië.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Eurowings se eerste vlug vanuit Frankfurt, Duitsland, land op Sondagoggend 20 September op die Internasionale Lughawe Hosea Kutako (HKIA).

Dié bevestiging het die naweek van dr. André Schulz, hoofbestuurder van die Lufthansa-groep vir Suider- en Oos-Afrika, gekom.

“Onderhewig aan alle nodige regeringsgoedkeuring, sal Eurowings vanaf 19 September drie vlugte per week vanaf Frankfurt na Windhoek onderneem,” het Schulz gesê.

“Die vlug sal op 19 September om 20:00 vanaf Frankfurt vertrek en op 20 September om 06:20 in Windhoek land. Daarna sal Eurowings elke Woensdag, Vrydag en Sondag om 08:20 uit Windhoek vertrek en om 18:50 in Frankfurt arriveer.”

Schulz sê passasiers kan nou ’n retoervlug teen slegs N$9 473 bespreek wat alle belasting insluit.

Dit volg na die Namibiese regering HKIA op 1 September oop vir internasionale toeriste verklaar het as deel van die toerismeherlewingsplan.

“Namibia bly ’n belangrike deel van die Lufthansa-groep se Afrikanetwerk en selfs deur die ongekende krisis kon ons verskeie suksesvolle repatriasievlugte na en vanaf Windhoek vlieg.

“Ons verbintenis bly om gereelde kommersiële dienste te bied wat Namibië met Duitsland, Europa en die res van die wêreld verbind.

Schulz het verseker die Lufthansa-groep volg streng higiëniese riglyne en maatreëls.

“Ek bedank julle vir jul lojale ondersteuning tydens hierdie uitdagende maande.”

Ethiopian Airlines sal die eerste internasionale lugredery wees wat internasionale toeriste weer op Namibiese bodem eerskomende Vrydag (11 September) laat land.

Ethiopian Airlines se verkoopsbestuurder in Namibië, mnr. Jitendra Mandani, het verlede week bevestig kommersiële en vragvlugte sal op Vrydag 11 September hervat.

Dié lugredery sal vier vlugte weekliks op Maandae, Woensdae, Vrydae en Sondae tussen die Bole Internasionale Lughawe (ADD) in Addis Abeba en HKIA vlieg.

Verskeie akkommodasieplekke het reeds by die gesondheidsministerie hul goedkeuring en sertifikate as veilige bestemmings gekry om buitelandse toeriste te ontvang.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!