EVM’s voor groot toets
Twee dae voor Namibiërs stembus toe gaan, moet ’n waterskeidingsuitspraak lig op dié verkiesings werp.
Denver Kisting – Dr. Panduleni Itula, die tandarts en onafhanklike presidensiële kandidaat, het gister aangevoer die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) het nooit formeel oor die gebruik van elektroniese stemtoestelle besluit nie.
Mnr. Henry Shimutwikeni het namens Itula gesê die kieswet bepaal net dat die EVM’s gebruik mag word – nie dat die toestelle gebruik móét word nie.
Die prokureur het ook gevra die kiestribunaal moet gelas die ECN moet kundiges aanstel om die EVM’s voor 27 November na te gaan.
Itula wil ook hê die voorsitter, landdros Uatjo Uanivi, moet die ECN beveel om ’n papierspoor vir volgende week se verkiesings verpligtend te maak.
Daarnaas, het Shimutwikeni gister gevra, moet die tribunaal die nasionale kiesliggaam beveel om stembriewe in oorleg met die EVM’s te gebruik.
Itula wil ook hê die voorsitter van die ECN, adv. Notemba Tjipueja, moet aanspreeklik gehou word vir ’n beweerde oortreding van haar statutêre pligte weens EVM’s wat in 2017 in Swapo se besit glo van ’n sleepwa afgeval en verdwyn het.
Naas die ECN en Tjipueja lys Itula die regerende party, Swapo, opposisiepartye, en sy mede- presidensiële kandidate, insluitend pres. Hage Geingob, as deel van sy geding.
Buiten die ECN het net die Workers’ Revolutionary Party (WRP) aan gister se verrigtinge deelgeneem.
Mnr. Hewat Beukes het namens die WRP aangevoer Namibië se soewereiniteit sal in die gedrang kom as die tribunaal nie in Itula se guns beslis nie.
Shimutwikeni het gister erken wat Itula probeer doen, is inderdaad “baie buitengewoon”.
Maar, het die prokureur voet by stuk gehou, die kiestribunaal het die mag en is die plek om die aansoek aan te hoor.
Hy het gesê hul aansoek sal geen uitstel van volgende week se verkiesings teweeg bring nie, dat die aansoek wel dringend is en dat geen skade aan die kiesproses aangerig sal word nie.
Adv. William Mokhari SC van Suid-Afrika het gesê EVM’s is reeds sedert ’n kennisgewing in die Staatskoerant in Augustus 2014 van krag.
Die gevolg daarvan was dat dié toestelle al in daardie jaar se presidensiële en Nasionale Vergadering (NV)-verkiesings gebruik is.
Itula wil nou net “drama skep rondom die verkiesings terwyl hulle (EVM’s) reeds in 2014 gebruik is”, het hy gesê.
Dit is volgens hom onaanvaarbaar vir Itula om “ter elfder ure” – een week voor die 2019-verkiesings – ’n aansoek te bring om die gebruik van EVM’s te keer.
Shimutwikeni sê Itula se kandidatuur as presidensiële kandidaat is eers verlede maand bevestig.
Sedertdien maak die tandarts glo kapsie teen die gebruik van EVM’s, maar kry geen terugvoering van die ECN af nie, het Shimutwikeni gesê.
Die prokureur voer aan dit kan tekenend wees dat die ECN nie omgee nie.
Die prokureur het ook kommer uitgespreek oor die teenstrydige weergawes van die verdwyning van die EVM’s twee jaar gelede in Swapo se besit.
Beukes het gesê hy koop nie die storie dat Swapo se ouer garde die toestelle gebruik het nie as die regerende party nie eens vir EVM’s in hul kongresverkiesings kans gesien het nie.
Shimutwikeni sê dit is onbekend watter impak die verdwyning van stemtoestelle op Itula se verkiesings sal hê al dan nie.
“Hierdie is dieselfde masjiene waarmee die aansoeker (Itula) veronderstel is om verkies te word (volgende week),” het hy gister gesê.
Die voorsitter van die tribunaal het gesê die ECN het onderneem om die verkiesings binne die wet te behartig.
Voor ’n oortreding nie begaan is nie, kan Itula se vrese nie voldoende gronde vir ’n aansoek wees nie, het hy gesê.
Oor die versoek om Tjipueja aanspreeklik te hou, het adv. Mokhari gesê die tribunaal is nie by magte om so ’n beslissing te maak nie.
Boonop is daar geen aanduiding dat die huidige ECN-voorsitter by die voorval betrek word nie, het Mokhari gesê.
Volgens hom kon Itula ook geen skakel tussen die 2017-voorval en volgende week se verkiesings bewys nie.
Mokhari sê ofskoon Itula die land se president word, “is hy nie vertroud met hoe die administrasie wat hy wil bestuur, werk nie”.
Mokhari is deur adv. Eliaser Nekwaya bygestaan in opdrag van die prokureur mnr. Nixon Marcus.
Uanivi lewer Maandag sy beslissing.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie