Fees toon goeie groei op 101
Fees toon goeie groei op 101

Fees toon goeie groei op 101

Dani Booysen
Herbert (Jacky) Britz, voorsitter van die Sam Khubis-komitee, skryf:
Graag wens ek u te versoek om die kort briefie te plaas in u wydbelese koerant.
Die Sam Khubis-komitee wens langs hierdie weg u van harte te bedank vir u getroue ondersteuning tydens hierdie jaar se herdenking van die Slag van Sam Khubis op 8 Mei 2016. Inderdaad was dit in meer as een opsig weer eens ’n reusesukses en ons het geen keuse as om alle eer, lof en aanbidding toe te dig aan ons Verlosser en Heer wat altyd in beheer is.
Hand aan hand het die komitee en Ekumeniese Raad gestap vir die behoud van die Gelofte van ons voorouers, soos ons tema vir vanjaar dit uitgebeeld het. Ten spyte van die aanvalle “der bose” het die manne en vroue vorentoe gebeur om gestand te doen aan die Gelofte wat hul voorouers 101 jaar gelede gemaak het.
Juis die individuele “kinderen der bose” moet in besonders bedank word vir hul negatiewe en afbrekende optrede, want dit het ons meer gemotiveerd gemaak om dit ’n sukses te maak. Inderdaad was dit tog ten goede want hulle het hulself blootgestel soos tydens die 100-jarige vieringe. Die doemprofete was weereens verkeerd bewys.
Die verrigtinge op Uitdraai was ’n reusesukses en jong manne en vroue het van sover as Swakopmund gereis om hul gelofte te kom herbekragtig. Die komitee het sekere verbeterings geïdentifiseer wat binnekort gestalte gaan begin kry. U behoort uself ’n klop op die skouer te gee.
Die Gharies-herdenking was soos in die verlede ook ’n sukses en tekens van groei is duidelik sigbaar. Baie dankie vir u onbaatsugtige diens aan die gemeenskap. Hou goeie moed, volgende jaar is dit groter.
Die verrigtinge op die terrein was weer eens belaai met hoogtepunte soos die herbekragtiging van die Gelofte vir die 101ste keer, ten ­spyte van die mislukte pogings deur samesweerders om dit te kelder, en die onthulling van die grafsteen van eerwaarde Heidmann. Opvallend is die getal persone wat die fees die eerste keer besoek het asook die getal perde (88) wat in Rehoboth deel gehad het aan die Perdekommando. Voorwaar moet sersant Tier en sy helpers krediet kry hiervoor.
Nagenoeg 450 Rehoboth Basters en besoekers, volgens die besoekersregister slegs op die terrein, het die koue en wind getrotseer om gestand te doen aan die Gelofte van hul voorvaders. Hierdie herdenking is in ’n rekordtyd georganiseer en die reuse-opkoms het die boodskap duidelik gegee aan die doemprofete wat ons Gelofte wou vernietig. In plaas van verdeeldheid wat hul wou saai, is daar ’n hegter band gesmee tussen die komitee en die Ekumeniese Raad.
Die doelbewuste verdigsels oor die komitee soos dat hulle ’n lodge wil bou op die terrein, die grond van Sam Khubis wil vervreem, asook dat die komitee nie ’n finansiële verslag aan die kaptein wou oorhandig nie, is die finale nekslag toegedien en diesulkes blootgelê. Soos in die verlede is die finansiële sake voorgehou op die terrein en is dit beskikbaar by die kassier vir insae deur u wat belange daarin het.
Graag wens ek ook aan die Rehoboth Basters oor die ganse Namibië bekend te maak dat die Sam Khubis-komitee tesame met die Ekumeniese Raad soos in die verlede weer eens die mandaat gekry het om aan die spits van die reëlings te staan vir 2017, dit wil sê ons is herkies.
In dieselfde asem wil ek dit kategories duidelik maak dat ons in die toekoms geen individu in die verband gaan akkomodeer/“entertain” nie. Voorts gaan ons ook nie toelaat dat enigiemand die mooi van ons geskiedenis met onbenullighede of beuselagtige optrede wil kom kelder nie.
Laastens wil ek u namens die komitee en Ekumeniese Raad van harte bedank vir u volgehoue vertroue en ondersteuning. ’n Groot dank gaan aan die kaptein wat die grootsheid aan die dag gelê het om die 7de Mei se diens op die dorp by te woon.
Ek moet ook vir Pic A Print op Rehoboth, Anty Annie Rittmann, Dolphin Fish Chips, Hebron Construction, Rehoboth Town Council, Radio 90.3, SH Fitness World, die Rehoboth-polisie en verkeersafdeling, Roads Authority, Reho Gazet en die Klein Aub-polisie uitsonder vir hul onbaatsugtige offers ten bate van Sam Khubis 2016. Mag U die spreekwoordelike seëninge van Bo ontvang.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!