Gaan Mad Max ’n Oscar wen?

Jacqueline Louw
verlede week is die Oscar-benoemings bekend gemaak en nou wag almal in spanning om te sien watter rolprent met dié gesogte trofee op 28 Februarie gaan wegstap.
Die beoordelaars kan tot tien benoemings maak, maar vanjaar is net sewe rolprente benoem, onder meer Mad Max: Fury Road, wat in Namibië verfilm is en nominasies in tien kategorieë verwerf het. Hier is die sewe rolprente wat ’n kans staan om ’n Oscar te wen:
• Mad Max: Fury Road is die jaar se top-aksieprent en ’n besinning oor die stand van die planeet én vroue­regte, met Charlize Theron wat skitter as Furiosa, die seksslaaf en vryheids­vegter. Die fliek het ook benoemings vir onder meer beste regisseur, filmkuns, kostuums en redigering gekry. Dit is die vierde aflewering in die reeks, maar maak hom geensins skuldig aan die sondes van vervolgprente nie.
• The Big Short is ’n aangrypende, ware komediedrama oor die finansiële ineenstorting in 2008, met swaargewigte Steve Carell, Ryan Gosling, Brad Pitt en Christian Bale wat fondsbestuurders speel wat hulle aan knoeiwerk skuldig maak. Die regisseur is Adam McKay. Die rolprent draai tans in Namibië.
• Die ware biografiese oorlewingsdrama The Revenant van Alejandro Gonzalez Iñárritu mag dalk uiteindelik aan Leonardo DiCaprio sy eerste Oscar vir beste akteur besorg en ’n kopknik vir beste prent en vir Iñárritu as regisseur. Dit handel oor Hugh Glass, ’n pionier, wat in 1820 in die Amerikaanse hinterland in ’n stryd om lewe en dood gewikkel is nadat hy deur ’n beer aangeval en deur sy makkers versaak is. Dit draai tans in Namibië.
• Room van die Ierse regisseur Lenny Abrahamson het in meer as een kategorie uitgetroon, met nominasies vir regie, beste aktrise en draaiboek. Dit handel oor ’n jong ma wat saam met haar vyfjarige seun in ’n kamer aangehou word en dan hul vryheid proe. Enigeen vertroud met Emma Donoghue se blitsverkoper-roman sal verstaan waarom die verloop van die verhaal nie hier verklap word nie.
• Die pakkende drama Spotlight is gegrond op die Boston Globe se ondersoek na beskuldigings van kindermolestering teen Rooms-Katolieke priesters in Massachusetts. Die koerant het in 2001 die Pulitzer-prys vir sy ondersoek gewen. Benewens vir die beste prent het Spotlight ook benoemings vir beste ondersteunende aktrise (Rachel McAdams), redigering en draaiboek gekry.
• Bridge of Spies is ’n Amerikaanse, historiese drama deur regisseur Steven Spielberg en gebaseer op ’n voorval gedurende die Koue Oorlog. Die rolprent vertel die verhaal van prokureur James B. Donovan wat vir die vrylating van ’n vlieënier, Francis Gary Powers, moet onderhandel in ruil vir Rudolf Abel, ’n Sowjet- KGB-spioen.
• In die drama Brooklyn raak ’n Ierse immigrant (Saoirse Ronan) verlief op ’n rowwe Italiaanse loodgieter in die New York in die 1950’s. Wanneer sy haar tuisland besoek, staar sy die versoeke van ’n ander man in die gesig. Benewens vir beste rolprent het Brooklyn ook benoemings vir beste aktrise en draaiboek gekry.
Bronne:Netwerk24/www.oscars.nytimes.com/2016

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!