Geen binnehandel in rand voor Gordhan gaan
Geen binnehandel in rand voor Gordhan gaan

Geen binnehandel in rand voor Gordhan gaan

Die direktoraat het bevind dat die verhandeling in die termynkontrakte in die normale loop van sake deur institusionele beleggers gedoen is.
Nellie Brand-Jonker - Die Raad op Finansiële Dienste (RFD) het geen binnehandel gevind in die verhandeling van termynkontrakte in die rand voordat Pravin Gordhan, minister van finansies, van ’n oorsese beleggerstoer teruggeroep is nie.

Die RDF se direktoraat markmisbruik sê in ’n verklaring geen binnehandel is gevind nie in die twee valutatermynkontrakte wat ter sprake is, naamlik vir Junie en Desember 2017.

Die direktoraat moes kyk of art. 78 van die Wet op Finansiële Markte, wat binnehandel verbied, oortree is.

“Die direktoraat het bevind dat die verhandeling in die termynkontrakte in die normale loop van sake deur institusionele beleggers gedoen is,” sê Solly Keetse, hoof van die departement markmisbruik.

Die departement is verantwoordelik vir die uitvoering van die direktoraat se mandaat.

Die nuus dat pres. Jacob Zuma vir Gordhan van sy buitelandse reis teruggeroep is, het Maandagoggend 27 Maart bekend geword. Gordhan was in die buiteland om met groot beleggers oor Suid-Afrika se sake te gaan praat.

Die rand het skerp verswak ná die nuus dat hy teruggeroep is.

‘Geen vooraf kennis’

Volgens Keetse het die institusionele beleggers ten tyde van die transaksies “geen vooraf kennis gehad dat Gordhan van sy beleggerstoer teruggeroep gaan word nie”.

Die RFD se departement markmisbruik het op 4 Mei ’n verklaring uitgereik waarin bevestig is dat hy “ongewone verhandeling in valutatermynkontrakte” ondersoek nadat ’n verslag van die JSE ontvang is.

Die JSE het op 11 April ’n verslag aan die departement gestuur. Die departement stel dan gewoonlik ondersoek in en die verslag en bevindinge word aan die direktoraat verskaf wat besluit of dit na die RFD se wetstoepassingskomitee verwys moet word as hy meen die wet is oortree.

Alternatiewelik kan die direktoraat die saak sluit.

Fin24 het voorheen berig die JSE se ondersoek het gehandel oor ’n berig deur Stuart Theobald van Intellidex wat getoon het daar was ’n groot sprong in die twee kontrakte – 15% in die getal kontrakte vir Junie en 167% in die getal kontrakte vir Desember.

Hy het aangevoer iemand het geweet Gordhan gaan teruggeroep word en het wins daaruit gemaak.

Die kontrakte word teen ’n sekere prys gekoop en as die rand verswak teenoor die Amerikaanse dollar, kan ’n wins gemaak word.

Oakbay

Die direktoraat het wel iemand wat ondersoek is oor die aandeelverhandeling van Oakbay Resources & Energy vir vervolging verwys.

Die direktoraat sê dié persoon “is onverwant aan die maatskappy”.

Fin24 het voorheen berig verdagte transaksies is deur die JSE ondersoek. Dit hou verband met verhandeling op 31 Maart. Dit was die Vrydagoggend ná die middernagtelike kabinetskommeling waarin Gordhan van sy pos onthef is.

Peter Redman, die JSE se senior tegniese adviseur oor markregulering, sê dit is tydens ’n roetinewaarneming van die mark bespeur.

Hy sê dit het bewyse van markmisbruik getoon, maar hy het nie besonderhede verskaf nie.

Oakbay se aandeelprys het dié Vrydag met 28% gespring.

Business Report het berig die kabinetskuiwe kon handelaars hoopvol gemaak het oor die regering se kernkragplanne. Oakbay se lotgevalle word met die stygende vraag na uraan verbind. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!