Geen Brexit-vrese vir vleis, druiwe

’n Nuwe handelsooreenkoms met lande in die streek sal die voortsetting van uitvoere na Brittanje ná Brexit verseker.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Die uitvoerders van Namibiese beesvleis en tafeldruiwe na markte in Brittanje lê nie wakker oor die impak wat Brexit op hierdie uitvoere gaan hê nie.

Alle aanduidings is dat dit ongehinderd sal voortgaan as Brittanje van die Europese Unie (EU) wegbreek.

Dít volg nadat Brittanje en lande van die Suider-Afrikaanse Doeane-unie (Sacu) en Mosambiek “reeds 95% klaar onderhandel het” aan ’n nuwe handelsooreenkoms wat die voortsetting van tarief- en kwotavrye uitvoere sal verseker.

Die nuwe ooreenkoms sal die bestaande Ekonomiese Vennootskapsooreenkoms (EPA) tussen die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) en die EU vervang.

Die handel in goedere en dienste tussen Namibië en Brittanje beloop reeds jaarliks sowat £70 miljoen, of nagenoeg N$1,4 miljard per jaar. Beesvleis en tafeldruiwe is die vernaamste uitvoerprodukte.

Volgens mnr. Ace Mutelo, hoof van inligtingstelsels by die Vleisraad van Namibië, is 8 186 ton beesvleis verlede jaar na Brittanje, die Europese Unie en Noorweë uitgevoer. ’n Klein hoeveelheid hiervan is deur Brukarros Meat Processors uitgevoer en die res deur Meatco.

Volgens die Verenigde Nasies (VN) se Comtrade-databasis vir internasionale handel, het Namibië in 2017 tafeldruiwe ter waarde van N$142,14 miljoen na Brittanje uitgevoer.

Mnr. Jannie Breytenbach, waarnemende uitvoerende hoof van Meatco, sê wat dié vleisverwerker se Europese uitvoere betref, is 19% van die beesvleis na Brittanje, 21% na Noorweë en 60% na ander EU-lande uitgevoer.

“Die wyse waarop Brittanje wegbreek, of Brexit, sal die pad vorentoe bepaal. As Brittanje ’n ooreenkoms met die EU sluit, sal ons voortgaan om onder die EPA na Britse markte uit te voer. Dit sal voortduur totdat die onderhandelinge vir ’n nuwe Sacu-Mosambiek-ooreenkoms met Brittanje voltooi is.

“Indien Brittanje sonder ’n ooreenkoms uit die EU tree en alle bande verbreek, het Namibië, of dan Sacu, die nuwe handelsooreenkoms nodig, want dan val die EPA weg.

“As die nuwe ooreenkoms nog nie onderteken is nie, sal Namibië eers onder die Mees Bevoordeelde Nasie (MFN)-handelsmeganisme van die Wêreldhandelsorganisasie (WTO) sy uitvoere moet voortsit. Dit is nie tariefvry soos die EPA nie en Namibië sal ’n ad valorem-heffing van 12,8% saam met ’n heffing van N$47 531 per ton op sy uitvoere na Brittanje moet betaal,” het Breytenbach verduidelik.

Hy sê Meatco is egter ingelig dat Sacu en Brittanje reeds oor 95% van hoe die nuwe handelsooreenkoms sal werk, onderhandel het.

“Natuurlik hoop ons hierdie 95% sal 100% wees teen die tyd dat Brexit plaasvind. Hierdie onderhandelinge word egter op regeringvlak gevoer en Meatco kan nie verder daarop kommentaar lewer nie,” sê Breytenbach.

Die Britse minister van internasionale handel, mnr. George Hollingbery, het verlede jaar die versekering gegee “Britse verbruikers sal dus steeds kan weglê aan kasjoeneute uit Mosambiek, appels uit Suid-Afrika en beesvleis uit Namibië”.

Hy het dit in ‘n verklaring gesê kort ná hy in Botswana met mnr. Bogolo Kenewendo, dié land se minister van beleggings, handel en nywerheid, as verteenwoordiger van Sacu (Namibië, Suid-Afrika, Botswana, Lesotho en Swaziland) en Mosambiek vergader het.

Hulle het ’n gesamentlike onderneming onderteken vir die finalisering van die oorskakelingsooreenkoms, wat in werking sal tree die oomblik as die EPA nie meer op Brittanje betrekking het nie.

“Ons het saamgestem dit is belangrik dat wanneer die Brittanje die EU verlaat, ons die sterk grondslag van ons ekonomiese betrekkinge behou en ter wille van wedersydse voorspoed daarop voortbou,” het Hollingbery in sy verklaring gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!