Geen groot gevaar waar boot op rotsrif lê

Des Erasmus
Des Erasmus en Otis Fink - Die masjien- en vrieskamers van die Fukuseki Maru No. 7 het ongeskonde gebly toe die Japannese vistreiler in die nagtelike ure van Donderdagoggend net suid van die wrak van die Winston op ‘n rotsrif geloop het.

‘n Gevaar van oliebesoedeling van die see bestaan ook nie.

Dit was die goeie nuus waarmee van die eerste duikers van Walvisbaai Saterdag na die hawedorp teruggekeer het. In daardie stadium kon bloot verkenningswerk nog van die omvang van die skade gedoen word, omdat die boot te vlak op die rotsrif van die bekende hengelplek Skilpadklip minder as 200 km noord van Hentiesbaai sowat 800 meter van die strand lê.

Gister was nog net 13 van die 24 bemanningslede aan boord met die ander 11 wat Saterdag per helikopter na die land gebring is. Een van die 11 is siek en moes vir mediese behandeling na Swakopmund of Walvisbaai gebring word. Die ander 13 bemanningslede is veilig op die boot.

Die Japannese boot, wat blykbaar op tunavangste teenoor die Angolese kus konsentreer, beskik oor twee brandstoftenks. Dit is dieselaangedrewe en vandag sal waarskynlik met sekerheid vasgestel kan word of een of albei die tenks beskadig is. Anders as olie is ‘n gevaar van dieselbesoedeling gering met diesel wat aan verdamping blootgestel word.

‘n Kleinerige helikopter is Saterdag deur hengelaars by Myl 30 suid van Hentiesbaai gewaar op ’n vlug na die boot.

Gistermiddag oor die etensuur is ‘n sleepboot van Kaapstad, die Smit Amandla, teenoor Pelikaanpunt by Walvisbaai op sy vaart na die Fukuseki Maru No. 7 gewaar. Dit kon die gestrande Fukuseki laat gistermiddag bereik met pogings wat waarskynlik vandag aangewend gaan word om die treiler van die rif te sleep. In die operasie sal die Smit Amandla bygestaan word deur tegnici van Japan wat Saterdag ook per helikopter na die afgeleë gebied gebring is.

‘n Gevaar waarmee die reddingswerkers rekening hou, is groter skade wat aan die romp veroorsaak kan word wanneer pogings aangewend word om die treiler van die rotsrif te sleep.

Die reddingspan van Japan is van die onderneming Nippon en hulle het Saterdag reeds hul eerste gesprekke met duikers gevoer. Namibiese bystand word deur die onderneming Sub Tech van Walvisbaai verleen.

Die tonnemaat van die Fukuseki Maru No. 7 is 379, die lengte 49,39 meter en die breedte 8,8 meter. Die treiler is in 1996 gebou.

Die mees aanvaarbare rede wat vir die stranding langs die Namibiese gegee word, is dat die treiler Walvisbaai as tuishawe wou aandoen om bemannings om te ruil en voorrade in te neem. Beweringe dat die stuurman vir die nag aan die slaap geraak het, vorm deel van die ondersoek.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!