Geen wet teen video's
Geen wet teen video's

Geen wet teen video's

Operasie Kalahari-woestyn gaan ondanks toenemende openbare ongelukkigheid en kritiek voort.
Tanja Bause
Tanja Bause



Aan die begin van die jaar is twee video-opnames in die sosiale media versprei wat glo toon hoe lede van die Namibiese polisie en die weermag lede van die publiek skop en slaan.

Die betrokke beamptes is deel van Operasie Kalahariwoestyn se fase VI in die Khomasstreek.

Tydens 'n nuuskonferensie het genl.maj Oscar Embubulu, adjunk-inspekteur van operasies, en die waarnemende adjunk-inspekteur-generaal van die Namibiese polisie, gesê dit is “tegnies nie teen die wet” om video's of foto's van polisie- of weermaglede in die uitvoering van hul pligte te neem nie.

“Ons moedig dit nie aan nie, omdat dit ondersoeke soms kan benadeel as dit op sosiale media geplaas word voor die ondersoek afgehandel is. Daar is egter geen wetgewing teen die neem van video's of foto's as sulks nie,” het hy gesê.

Op 5 September 2019 is mnr. Be­nisius Kalola deur 'n lid van die weermag doodgeskiet tydens 'n ­Ope­rasie Kalahariwoestyn-operasie omdat hy na bewering 'n video-opname van lede gemaak het.

“Die twee video's wat hier ter sprake is, wys hoe die beamptes lede van die publiek skop en klap. Dit is teen die wet dat polisiebeamptes en mense wat die wet moet toepas lede van die publiek aanrand of rof hanteer – selfs diegene wat van misdade verdink word,” het Embubulu gesê.

Die video's word tans ondersoek. Die eerste video wys hoe 'n man op 2 Januarie om 16:45 uit 'n sedanvoertuig gepluk word. Dit het in Windhoek se Goreangab-omgewing gebeur.

“Voordat die video geneem is, het die man glo roekeloos bestuur. Hy het ook sy ligte geflits vir die beampte wat in die gebied op patrollie was. Hy het sy voertuig laat tol en amper 'n soldaat getref. Hy het middelvinger vir die ­beamptes gewys en weggejaag. Ná sowat 100 m het hy gestop en is deur die beamptes genader. Dit is waarskynlik waar die video-opname begin het.”

'n Taxi kan in die tweede video gesien word. Die video is op 9 Januarie op die hoek van Florence Nightingale- en Hans Dietrich Genscherstraat in Khomasdal geneem.

“Daar word gesien hoe ses mans vinnig in die taxi klim. Dit het die patrolliespan wat in 'n voertuig was, agterdogtig gemaak. Hulle het verby die taxi gery en wou hulle by die Gateway-sentrum vir verdere ondersoek aftrek. Die bestuurder van die oorlaaide taxi het die beamptes gesien en 'n U-draai gemaak. Hulle is agtervolg en het by die verkeersligte tot stilstand gekom. Een van die mans het uit die voertuig gespring en wou weghardloop. Hy is egter deur polisielede agtervolg en aangekeer. Dit is toe die video-opname begin het.”

Volgens Embubulu is die bestuurder en passasiers vir verdere ondervraging na die polisiekantoor geneem waaar vasgestel is twee van die mans was glo vantevore by rooftogte betrokke.

Embubulu sê die polisie werk hard om Namibiërs veilig te hou.

“Dit is 'n baie ondankbare werk. Wanneer daar geen misdaad is nie en alles vreedsaam verloop, dink niemand aan die polisie nie. Die polisie se suksesse word nie genoem nie. Maar een voorval soos in die video en alles word buite verband geruk,” het hy gesê.

Volgens hom sal die gesamentlike operasie voortgaan so lank as wat dit nodig is.

“Die operasie is nodig en ons sal aangaan tot ons tevrede is misdaad het afgeneem. Dan sal ons dalk vir 'n wyle staak.”– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!