Geingob nie betrokke by Air Nam-aangeleentheid
Catherine Sasman - Pres. Hage Geingob se kantoor het gister gesê die president is geensins direk of indirek betrokke by die voorval waarin me. Jacqui Dadford se kontrak na bewering nie deur Air Namibia hernu is nie, oor ’n bloutjie wat sy met die stigter van die Kora-toekennings, mnr. Ernst Adjovi, geloop het.
Mnr. Albertus Aochamub, die woordvoerder van die president se kantoor, het in ’n verklaring gesê daar was geen mondelinge, geskrewe of enige ander interaksie tussen president Geingob en Adjovi en die waarnemende besturende direkteur van Air Namibia, advokaat Mandi Samson, oor die aangeleentheid nie.
Hy het gesê pres. Geingob is op rekord dat hy alle partye betrokke by die nou rampspoedige Kora-toekennings in kennis gestel het dat hulle nie sy naam op enige manier aan die toekennings mag koppel nie en dat geen staatsgeld vir hierdie toekennings beloof is nie.
Aochamub het gesê die president se kantoor distansieer dit van enige ongevraagde misbruik van die staatshoof se goeie naam en pogings om sodoende onbehoorlike voorkeur te verkry.
Geingob het by die onafhanklikheidsvieringe beklemtoon dat niemand die reg het om sy naam te gebruik om enige sakevoorstelle by Staatshuis in te dien nie. Volgens Aochamub is kabinetsministers by magte om sulke voorstelle te hanteer voordat dit na die relevante regeringsliggame verwys word.
Dadford, wie se kontrak met Air Namibia op 24 April verval het, het in ’n klagstaat beweer dat Samson haar as ’n rassis uitgejou het en gewaarsku het dat sy (Samson) opdrag gekry het om Dadford uit haar pos te onthef ná ’n onderonsie met Adjovi op die Johannesburgse internasionale lughawe in Januarie vanjaar. Air Namibia het hierdie aantygings ontken deur te sê dat Dadford nooit as ’n rassis gebrandmerk is nie en ook nie ingelig is dat haar kontrak nie verleng sou word nie.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie