Gelyke toegang tot sorg vir almal
Gelyke toegang tot sorg vir almal

Gelyke toegang tot sorg vir almal

Universele gesondheidsdekking sal beteken alle Namibiërs het toegang tot basiese mediese sorg sonder om finansieel daaronder gebuk te gaan.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - Gesondheidstelsels soos infra­struktuur, toerusting, voldoende menslike hulpbronne en die finansiering van die gesondheidsektor moet versterk word om die droom van universele gesondheidsdekking (UHC) in Namibië te verwesenlik.

Volgens die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Bernard Haufiku, is daar vir regerings nie 'n beter manier om goeie gehalte ­gesondheidsdienste te bied as juis deur UHC nie.

“Dit beteken die werklose ma van Sauyemwa op Rundu moet toegang tot 'n noodkeisersnee hê sonder dat sy haar beeste, wat sy dikwels nie het nie, of haar bokke of hoenders of selfs haar huis moet verkoop om daarvoor te betaal,” het Haufiku gesê.

“UHC beteken mnr. Witbeen van Tseiblaagte op Keetmanshoop wat in 'n motorongeluk was en 'n operasie moet ondergaan, hoef nie eers geld te gaan leen wat hy nie kan terug­betaal om dit te ondergaan nie.”

Haufiku het UHC beskryf as toegang tot sorg op 'n gelyke basis.

“Indien 'n pasiënt ekstras kan bekostig, laat hy of sy dit kry deur self daarvoor te betaal omdat dit niks met ­behandeling te doen het nie.”

Hy het beklemtoon dié wat ekstras kan bekostig, kan dit kry, maar elkeen moet toegang tot basiese en alle nodige mediese ondersoeke en ­behandeling hê sonder om ­finansieel daaronder gebuk te gaan.

Haufiku het daarop gewys die helfte van die wêreld se bevolking het nie volle dekking wat gesondheids­dienste betref nie.

“'n Honderdmiljoen mense word daagliks in armoede gedompel omdat hulle nie gesondheidsdienste kan bekostig nie. Sowat 12% (800 miljoen) bestee 10% van al hul inkomste aan gesondheidsdienste. Die ergste is dat 16% van die wêreldbevolking uit hul eie sak hiervoor moet betaal. Dit geld ook in Namibië.”

UHC in dié konteks beteken finansiële beskerming vir die armes, die weerloses en die swakker lede van ons gemeenskap.”

Hy het verwys na die staat se mediese fonds (Psemas) wat 'n alge­hele verandering moet ondergaan vanaf 'n skema na 'n mediese verseke­ring of fonds.

“'n Minister of direkteur moet meer as 'n skoonmaker of drywer betaal.”

Haufiku het gemaan ongelykheid sal voortgaan indien byna N$3 miljard van belastingbetalers se geld aan minder as 300 000 Namibiërs toegeken word waarvan slegs 124 000 skamele maandelikse premies van gemiddeld N$250 per lid betaal, terwyl die res van die bevolking sukkel om vir hul mediese sorg en behandelings te betaal.

“Dit is tyd dat ons Psemas verander en meer betekenisvol maak.”

Die minister het voorts gesê 'n “onafhanklike, deursigtige en verantwoordbare” Nasionale Gesondheidsfonds (NHF) moet geskep word, met die Maatskaplike Voorsorgfonds wat reeds die grondslag hiervoor gelê het.

“Dit sal Psemas, alle maandelikse premiums, sondebelasting uit tabak, alkohol en suiker, sowel as versoete kos en drank bestuur.”

Haufiku het beklemtoon dit beteken nie private mediese fondse sal nie meer bestaansreg hê nie.

“UHC wil nie bestaande fondse of private hospitale vernietig nie, maar eerder toegang tot goeie gehalte gesondheidsorg versterk om die basis tot voordeel van die bevolking te verbreed en nie net vir enkele lede van die samelewing nie.”

Vanjaar se Wêreldgesondheidsdagvieringe het op UHC gefokus. Dié dag word jaarliks op 7 April gevier.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!