Geraamtes bly val uit promotor se toerkas
Ronelle Rademeyer – Die ouers van ’n groep onder 16-seuns wie se rugbytoer vroeër vanjaar na Los Angeles in Amerika op die lughawe gekanselleer is toe dit blyk die vliegtuigkaartjies is nooit betaal nie, het ’n klag van diefstal onder valse voorwendsels teen die organiseerder ingedien.
Me. Lorraine Montgomery van Grootfontein sê die seuns was al op die lughawe en gereed om via Doha na Amerika te vlieg vir die 2020 HSBC Los Angeles sewes-uitnodigingstoernooi van 24-29 Februarie, toe dié nuus aan hulle meegedeel is.
Die toer is deur mnr. Renfred Muller van Christian Sport Promotors gereël. Dit het N$28 000 per kind gekos. “Toe ons (in Windhoek) by die lughawe aanmeld, was Renfred nie daar nie. Hulle het gesê ons kan nie die vlug haal nie, omdat die kaartjies nie betaal is nie.”
Sy het Republikein gekontak nadat verlede week berig is die ouers van drie jong netbalspelers van Windhoek wat sowat N$250 000 aan ’n sporttoer bestee het wat nooit plaasgevind het nie en sukkel om hul geld terug te kry, gaan kriminele klagte teen Muller indien.
Dié ouers sou hul dogters vergesel het na ’n internasionale netbaltoernooi in Florida, Amerika, waar hulle sou gaan deelneem het. Hulle het Muller laat weet hulle kanselleer die toer toe dit blyk al meer lande stel Covid-19-inperkingsmaatreëls in en die toernooi van 6-14 April sal nie kan plaasvind nie.
Volgens me. Melanie du Plessis het Muller “nie eens N$1 bestee” om reëlings vir die netbaltoer te tref nie.
Me. Lizanne Kruger van Otjiwarongo, wie se seun saam na Los Angeles sou toer, sê anders as in die geval van die netbaltoer het Muller wel reeds koste aangegaan om reëlings vir die rugbytoer te tref.
Sy sê die visums was gereël en die organiseerder van die sewestoernooi in Los Angeles het bevestig die inskrywingsfooi is betaal. Verder het Muller reeds hul span se sportklere en -sakke vir die toer aan hulle oorhandig. Die ouers kon nie vasstel of die akkommodasie al betaal was nie.
Montgomery sê sy het die diefstalklagte op 12 Mei teen Muller ingedien toe dit blyk hy gaan nie die geld wat ouers vir die toer betaal het, aan hulle terugbetaal nie.
Volgens Kruger het hulle as ouers volle vertroue in Muller gehad aangesien hy in die verlede verskeie oorsese sporttoere suksesvol aangebied het. “Hy het net voordat ons kinders sou toer, ’n o.19-sewesrugbytoer na Dubai aangebied en daar was geen probleme nie,” sê sy.
Kruger sê sy het ’n siviele aksie teen hom aanhangig gemaak en hoewel hy ingestem het om maandeliks N$5 000 aan haar terug te betaal, het dit nie gebeur nie. “Muller het ons geblok en ons kon hom nie bel nie. Dit was eers toe ek op Facebook oor hom navraag gedoen en reaksie van die publiek gekry het, dat hy N$5 000 aan my oorbetaal het.”
Montgomery sê sy weet nie hoekom sloer die polisie se ondersoek na die saak so lank nie.
“Die polisie op Grootfontein het vir my gesê die saak is aan die polisie op Rehoboth oorhandig omdat Muller daar woon.”
Ondanks verskeie probeerslae kon Muller nie telefonies vir kommentaar bereik word nie.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie