Gesoekte Pakistani's werk glo op Oshikango

Namport is valslik by vermeende visum­bedrog deur twee mans van Pakistan betrek.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer



Twee mans van Pakistan wat glo onwettig in die land is nadat hulle op 22 Desember verlede jaar onder vals voorwendsels hierheen gekom het, bevind hulle moontlik op Oshikango.

Mnr. Sakeus Kadhikwa, woordvoerder van die ministerie van binnelandse sake en immigrasie, het gister aan Republikein gesê agente van die ministerie volg tans dié leidraad op nadat inligting oor hul bewegings van die publiek ontvang is.

Mnre. Muhammad Inam Ullah (49) en Tauseef Hussain (35) het na bewering op werksvisum-aansoeke wat deur 'n agent ingedien is, voorgegee hulle het deur ABC Hansen Africa kontrakte bekom om by maatskappye in Namibië te kom werk.

Die groep ABC Hansen Africa vervaardig en verskaf graanberging- en -hanteringstoerusting.

Briefhoofde van Namport is glo gebruik en handtekeninge is vervals om die kontrakte eg te laat lyk.

“Ons het hierdie maat­skappye gekontak en hulle het bevestig dit is vervalste dokumente,” sê hy.

Volgens Kadhikwa het altesaam ses mense – die ander vier vanaf Suid-Afrika en Zimbabwe – deur dié agent aansoeke ingedien.

“Die ander vier het tou opgegooi toe hul aansoeke afgekeur is, maar Ullah en Hussain het al drie kere wat hul aansoeke afgewys is, daarteen geappelleer. Ná die derde appèl is dit toegestaan,” sê hy.

Die visums was egter nie in hul paspoorte geëndosseer nie. Hulle het dit los saam met hul paspoorte aan die immigra­siebeamptes voorgelê toe hulle by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako aangekom het.

Die twee mans is egter meegedeel die visums moet geëndosseer wees en is versoek om hul paspoorte in te handig. Kadhikwa sê die vermeende bedrog het daarna aan die lig gekom.

Hy sê 'n ondersoek is intussen ook na die werksaamhede van die agent van stapel gestuur.

Republikein het Hussain gister via sy profiel op Facebook probeer kontak. Hy het die boodskap op Messenger gelees, maar nie gereageer nie.

Dit blyk uit plasings op sy Facebook-blad hy het op 20 Desember vanaf Pakistan na Dubai gereis. Dit was vermoedelik toe hy na Namibië op pad was.

Kadhikwa sê aangesien die mans onwettig in die land is, sal hulle in hegtenis geneem word indien die polisie hulle opspoor.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!