Gesondheidsministerie skuld Swakop miljoene
Erwin Leuschner op Swakopmund – Die Swakopmund-dorpsraad het die ministerie van gesondheid versoek om die munisipale rushuise wat vir kwarantyn gebruik is, te ontruim omdat verliese van miljoene dollars reeds gely is.
Die aantal nuwe Covid-19-gevalle in die Erongostreek is die afgelope paar maande aan die afneem.
Vir die eerste keer sedert die aanvang van die pandemie, was daar sedert Dinsdag 26 Oktober nie 'n enkele pasiënt wat ernstig siek of kritiek is nie. Om dié rede het die ministerie van gesondheid minder geriewe vir kwarantyndoeleindes nodig, wat onder meer tydens die onlangse stadsraadvergadering op Swakopmund bespreek is.
Sedert die aanvang van die pandemie het die ministerie 112 bungalows en 78 sogenaamde rushuise by die munisipale ruskamp op Swakopmund (SMRC) vir kwarantyndoeleindes gebruik.
Die ministerie het die bungalows teen 'n verminderde tarief gehuur, terwyl die 78 rushuise vir 'n tydperk van ses maande gratis beskikbaar gestel is. Hierdie ooreenkoms het einde September verstryk.
Volgens die dorpsraad beloop die uitstaande bedrae vir die 112 bungalows vir die maande Julie, Augustus en September meer as N$3,6 miljoen. “Ongelukkig is tot dusver nog geen betaling ontvang nie,” het die raad gesê.
Vanweë die afname in nuwe gevalle het die gesondheidsdirekteur in die streek, me. Anna Jonas, die munisipaliteit begin September in kennis gestel dat die 112 bungalows nie meer nodig is nie.
“Ons sal wel voortgaan om die 78 rushuise wat tevore gratis aan die ministerie beskikbaar gestel is, te gebruik,” het Jonas die raad skriftelik ingelig.
Die raad stem egter nie hiermee saam nie en het die ministerie beveel om die 78 rushuise teen einde Oktober te ontruim.
Die rede wat hiervoor verstrek word, is dat die SMRC 'n “selfonderhoudende eenheid” is wat 'n inkomste genereer en sodoende sy eie bedrywighede finansier. Die 78 rushuise, wat die ministerie ses maande lank gratis gebruik het, het maandelikse verliese van bykans N$2,5 miljoen aangemeld.
“Dié situasie is nie volhoubaar vir die ruskamp nie en om die eenhede verder gratis beskikbaar te stel, sal net die swak finansiële situasie vererger,” het die raad gesê.
“Om verdere finansiële verliese vir die Swakopmund-munisipaliteit af te weer, moet die ministerie se versoek nie oorweeg word nie.”
Om dié rede het die stadsraad besluit die ministerie moes nie net die 78 rushuise teen einde Oktober ontruim nie, maar ook elke eenheid skoonmaak en ontsmet. Hulle moes ook die beddegoed was. Hierbenewens moes die inventaris nagegaan word.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie