Gibbs kry R6 000 oor dronkry
Gibbs kry R6 000 oor dronkry

Gibbs kry R6 000 oor dronkry

Krieket
Jana Breytenbach



Sesduisend rand of drie maande tronkstraf. En hy voel “great, great, great”.

Die voormalige Protea-aanvangskolwer Herschelle Gibbs het gister skuld beken op 'n aanklag van bestuur terwyl hy onder die invloed van alkohol was.

Gibbs het vroeër vanjaar vertoë aan die direkteur van openbare vervolging gerig om die aanklag te laat vaar, maar gister het hy 'n pleit­ooreenkoms met die staat gesluit waarin hy erken het hy het op 30 November 2014 in Kampsbaai onder die invloed van drank gery.

Luidens sy pleitverduideliking het Gibbs erken hy was dié Sondagaand by die gewilde restaurant Caprice om 'n vriend se verjaardagpartytjie by te woon. Volgens hom was hy van 19:00 daar en het die restaurant omstreeks 23:30 verlaat om Clifton toe te ry.

Hy het saam met 'n vriend in sy BMW geklim, wat volgens Gibbs hom nie sou laat bestuur het as hy nie “okay was om te ry nie”.

“Ek het fine gevoel,” het Gibbs in die hof gesê terwyl hy ter versagting getuig het.

Op pad Clifton toe het hy in Victoriaweg baie naby aan die middel van die pad gery en het 'n voertuig wat van voor gekom het, getref toe dié voertuig ook baie naby aan die middel van die pad gery het. Gibbs het gesê die skade aan die ander voertuig, 'n Toyota Corolla, was R22 000 wat hy betaal het.

Gibbs het die hof gevra om genadig te wees en nie sy rybewys op te skort nie. Hy het ter versagting verduidelik sy ma is sieklik en hy moet na haar kan ry as daar iets fout gaan. Sy ma bly tans in die Oasis-versorgingsoord in Century City en is 'n diabeet.



BETWIS NIE MONSTER

Gibbs is ná die ongeluk na 'n satellietstasie in Athlone geneem waar sy bloed getrek en weggestuur is vir toetse.

Aanvanklik was sy vertoë gerig op wie moontlik met sy bloedmonsters kon peuter en wie toegang tot die yskas sou kon gehad het waarin sy bloedmonster gestoor was.

Hy het egter gister erken sy bloed is korrek getrek, gestoor en getoets. Ná toetse is bevind Gibbs se bloedalkoholvlak was 0, 2g/100 ml. Hy het dit ook erken en gesê hy het geweet hy was besig om onder die invloed van drank te bestuur.

Benewens dit het hy sy rybewys nodig omdat hy elke dag krieket oefen en wanneer hy oorsee speel, word daar voertuie aan hom be­skikbaar gestel om mee rond te reis.

Landdros Zakira Mohamed het Gibbs se pleit aanvaar.

Die ooreenkoms met betrekking tot vonnis was R12 000 of ses maande tronkstraf waarvan die helfte vir vyf jaar opgeskort is op voorwaarde dat hy nie aan dieselfde misdryf skuldig bevind word nie.

Mohamed het die vonnis ook aanvaar en nadat die saak afgehandel is, het Gibbs die boete van R6 000 betaal.

Buite die hof het hy aan Jaco Marais, fotograaf, gesê hy voel “great, great, great” voordat hy en sy regspan weggeloop het.

Gibbs is in 2009 in 'n rehabilitasiesentrum vir alkohol- en dwelmmisbruik opgeneem.

Hy is in Maart 2008 in Seepunt in verband met 'n ander voorval op 'n klag van dronkbestuur in hegtenis geneem. Dié klag is teruggetrek.

- Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!