Gu00e9u00e9n kans op laer rente in SA diu00e9 week
Gu00e9u00e9n kans op laer rente in SA diu00e9 week

Géén kans op laer rente in SA dié week

Jo-Mare Duddy Booysen
Hanlie Stadler

Die Reserwebank is steeds soos ’n renperd wat sy hoewe stamp en kou aan die stang – hy sal baie graag verder wil hardloop met rentekoerse. Verbruikers met skuld moet dus nie heeltemal onkant gevang word as koerse Donderdag verhoog word nie.
Die meeste ontleders is egter optimisties dat die repokoers vir eers onveranderd op 7% gelaat sal word. Dit beteken die prima rentekoers van banke sal op 10,5% bly.
Benewens inflasie en trae ekonomiese groei, sal Lesetja Kganyago, president van die Reserwe­bank, en die ander vyf lede van die monetêrebeleidskomitee dié week vir die eerste keer die impak van Brexit – die Britte se besluit om die Europese Unie te verlaat – op Suid-Afrika en die wêreld­ekonomie opweeg.
Daarby sal die komitee in sy kristalbal probeer bepaal wat die VSA se Federale Reserweraad ’n week later gaan besluit oor Amerikaanse rentekoerse.

Ander faktore
Peter Attard Montalto, ’n ontleder van Nomura, sê ander faktore waaroor Kganyago waarskynlik wakker lê, is die verwagte kredietafgradering in Desember, wat Suid-Afrika se staatseffekte uiteindelik op die gevreesde rommelstatus te staan sal bring en die rand vir seker weer sal laat verswak. Selfs voor dit sal die uitslag van die plaaslike verkiesing in Augustus waarskynlik markte bewerig maak.
Montalto sê ongeag die swak ekonomie is laer rentekoerse “nie naastenby” ’n moontlikheid nie.
David Faulkner, ekonoom by HSBC Securities, beaam dit: “Die Reserwebank het al herhaaldelik geredeneer dat monetêre beleid min kan doen om Suid-Afrika se groei te stimuleer, gegewe die verskeidenheid strukturele tekortkominge wat die ekonomie terughou.
“Onder dié omstandighede reken ons dit sal ’n resessie in die wêreld­ekonomie verg voordat die Reserwebank beleidsverruiming (soos laer rente­koerse) sal toepas,” sê Faulkner.
Die Reserwebank se verwagting oor ekonomiese groei sal nietemin fyn dopgehou word. In Mei het die Reserwebank nog groei van 0,6% vir 2016 voorspel. Die Internasio­nale Monetêre Fonds het egter onlangs net 0,1% voorspel.
Die vorige rentekoersverhoging, van 0,25 van ’n persentasiepunt, was in Maart vanjaar, en in geheel het die Reserwebank sedert Julie 2014 die rentekoers al met 2 persentasiepunte verhoog.
Die Reserwebank lê herhaaldelik klem daarop dat rentekoerse nominaal gesproke (dus as inflasie daarvan afgetrek word) nog baie laag, selfs negatief, is. Die gemiddelde rentekoers van 1998 tot 2016 is 12,9%; met die hoogtepunt van 23,99% in Junie 1998 en die laagtepunt van 5% in Julie 2012. Dié laagtepunt is twee jaar lank volgehou.
Montalto sê die risiko van ’n koersverhoging is “matig hoog” op sowat 40%.

Inflasiekoers
Die monetêrebeleids­komitee se besluit sal in ’n groot mate afhang van die inflasiekoers vir Junie wat môre uit­gereik word, asook peilings oor inflasie­verwagtinge wat ook dié week bekend gemaak word omdat die sentrale bank tot twee jaar vooruit kyk in sy besluite.
Inflasie het in Meimaand verras met ’n effense verlaging tot 6,1%, maar ontleders is dit eens dat kospryse weer gaan begin styg soos wat veral vleis, graanprodukte en groente en vrugte skaarser word.
Jason Muscat, senior bedryfsontleder van FNB, verwag dat verbruikers­prysinflasie in Junie tot 6,4% gestyg het en dat kospryse in dié maand met 11,7% gestyg het.
Muscat raam dat kerninflasie­ – wat die meer wissel­vallige items kos, petrol en krag uitsluit – effens gestyg het, van 5,5% tot 5,6%. Muscat sê die feit dat ­inflasie in die vorige twee maande ietwat laer was as verwag en die rand die ­afgelope ruk heelwat ­versterk het, kan die ­Reserwebank se ongeduld om weer weg te spring dalk temper.

En wat van later vanjaar?
Busisiwe Radebe en Dennis Dykes, Nedbank-ekonome, verwag ’n verhoging van 0,25 persentasie­punt in die rentekoers in September, dus die volgende keer wanneer die Reserwe­bank daaroor besluit. Dít ondanks Nedbank se pessimisme oor die ekonomie­ – hulle verwag dat die bruto binnelandse produk vanjaar met 0,1% sal daal.
Muscat verwag ook nog een rentekoersverhoging voordat 2016 verby is.
Faulkner verwag ’n rente­koersverhoging van 0,25 persentasiepunt in September, sowel as een in die eerste kwartaal van 2017.
Annabel Bishop, Investec-­ekonoom, is nou al geruime tyd uitgesproke­ daaroor dat rentekoerse dalk eerder moet daal.
Investec verwag ekonomiese groei van 0,2% vanjaar.
Bishop sê onder meer weens die mark­skommelinge wat deur Brexit veroorsaak is, gaan die Fed dalk eers in 2018 rentekoerse verhoog. Sy sê verhandelaars in termynkontrakte bring eers teen einde 2017 ’n plaaslike rentekoersverhoging in berekening, “maar die Reserwebank het nog nie sy valkagtige houding laat vaar nie”. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!