Gobabis het nou sy eie bababoks

Die vier babas wat in Swakopmund se bababoks gelos is, is almal aangeneem.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Namibië se tweede bababoks waarin vroue sonder vrees vir enige vervolging hul babas kan los waarvoor hulle nie kan sorg nie, het op Gobabis die lig gesien. Dié boks is die breinkind van me. Gijsbertha van Rooyen wat saam met haar man, Jan, nou by die gemeenskap en die nieregeringsorganisasie Light of the Children betrokke is.

“Dis nog ’n manier om die gemeenskap te dien wat andersins geen ander opsie het nie,” sê Gijsbertha.

Sy erken ongehude swangerskappe – veral onder tieners – is ’n groot “probleem en uitdaging” in die gemeenskap en Omahakestreek

Die egpaar se reis met kinders van die gemeenskap strek jare terug met Gijsbertha wat vertel hoe hulle in 2016 deur ’n maatskaplike werker genader is om tydelik na ’n twee week oue San-babaseuntjie om te sien. Die doel was om hom net tydelik in hul pleegsorg te plaas totdat ’n ouerhuis vir hom gevind kon word.

“Ons het nie ’n pleeggesin gekry nie en het besluit om hom self aan te neem en groot te maak,” vertel Gijsbertha. Vandag is die Van Rooyens die trotse ouers van twee kinders.

Die bababoks is by die egpaar se huis in Dr. Mbuendestraat 4 op Gobabis geleë, met plakkate oor die ligging en rede daarvoor wat buiten in die dorp ook in die streek versprei word.


MET ’n GERUSTE HART
Volgens Gijsbertha het hulle reeds navrae hieroor uit die gemeenskap gekry.

“’n Swanger vrou het onder meer gebel en gevra of sy haar baba in die boks sal kan kom sit, omdat sy nie vir hom kan sorg nie.”

Gijsbertha en haar man se gemeenskapswerk sluit onder meer die nasorg en voeding van ongeveer 80 wees- en weerlose kinders, mentorskap en die rehabilitasie van ’n klein groepie straatkinders in.

Light for the Children se visie is dat kinders “hul Godgegewe potensiaal mag ontdek en daarvolgens mag lewe”.

Intussen sê Ronel Peters van die Ruach Elohim-stigting in Swakopmund wat die eerste bababoks in die land in dié dorp geopen het, is vier babas reeds hierin geplaas. Al vier babas is ook reeds aangeneem, met twee van die ouerpare wat gekies het om in die kusdorp en by die stigting hul nuwe toevoegings tot hul gesinne se eerste verjaardae hier te vier. Tans word nege babas tydelik hier gehuisves totdat ouers vir hulle gevind word.

“Dié babas wat in die boks gelos word, se lewens word gered. ’n Mamma kan met ’n geruste hart haar baba hier los, want so gee sy hom of haar ’n kans op lewe. Sy kan haarself op die skouer klop dat sy die beste vir haar kind gedoen het,” sê Peters.
Ronel kan by 081 242 6396 of Gijsbertha by 081 881 9188 vir meer inligting gekontak word.
[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!