Goeie voorspelling oor mielies ‘verras’
’n Ekonoom beklemtoon die syfers is steeds net skattings oor aanplantings.
Hanlie Stadler – Landbou-ekonome is verras oor hoeveel hektaar vanjaar met mielies beplant is, gegewe die nypende droogte in groot dele van die Wes-Vrystaat en Noordwes.
Volgens die Nasionale Oesskattingskomitee, wat Dinsdag sy eerste ramings oor graanaanplantings in die somerreënval-gebied uitgereik het, is nagenoeg 2,27 miljoen hektaar met mielies beplant – 1,26 miljoen hektaar witmielies en 1,01 miljoen hektaar geelmielies.
Hoewel dit onderskeidelik 0,88% en 3,7% laer is as in die 2018-seisoen, en altesame 2,15% laer, is dit meer as verwag.
Wandile Sihlobo, ekonoom van die landbousakekamer Agbiz, het aanplantings van net 1,98 miljoen hektaar mielies verwag.
Sihlobo beklemtoon dat die syfers steeds net skattings oor aanplantings is. Hy is van mening die aanplantings was dalk minder as die aanvanklike raming. Meer akkurate syfers word in Februarie verwag.
Paul Makube, senior landbou-ekonoom van FNB Agri-Business, sê goeie reën in Januarie in dele van Noordwes en die Vrystaat het die broodnodige vog verskaf wat boere nodig gehad het om te plant. Baie boere het heelwat later as gewoonlik geplant, wat die risiko skep dat hul oeste deur ryp beskadig kan word wanneer die winter toeslaan.
Die grootste daling in aanplantings is in die Vrystaat, waar 5% minder grond met mielies beplant is.
Wintergraan
Die Nasionale Oesskattingskomitee het ook sy sesde produksievoorspelling vir wintergrane bekend gemaak.
Die koringoes gaan na verwagting 1,8 miljoen ton wees, 1,74% laer as wat voorheen voorspel is, maar ’n stewige 17% meer as die 2017-oes nadat die drie jaar lange droogte in die Wes-Kaap verlede jaar gebreek is.
Die oesskatting vir moutgars is met byna 5% tot 421 790 ton verhoog en die verwagting vir kanola is onveranderd gelaat op 109 950 ton.
Makube is egter verras dat Noordwes 1% méér hektaar met mielies beplant het. Noordwes verteenwoordig nagenoeg 21% van die grondgebied wat met mielies beplant is.
Makube raam dat die mielieoes vanjaar 12 miljoen ton kan nader, wat genoeg sal wees om in Suid-Afrika se plaaslike verbruik te voorsien. Daar is ook nog tussen 3,2 miljoen ton en 3,4 miljoen ton voorraad opgeberg van verlede jaar.
“Die implikasies is dat graanpryse nie meer veel gaan styg nie, wat goeie nuus is vir inflasie-uitkomste oor die volgende paar maande.”
Vir verbruikers beteken dit ook brood-, mieliemeel en ander graanprodukte behoort nie te skerp te styg nie, ’n vrees wat verlede jaar uitgespreek is weens die droogte.
Makube sê die kort- tot mediumtermynvooruitsig vir die weer dui op verdere reën in die somergraanstreke, “wat goeie nuus is vir die ontwikkelende gewasse”.
Sihlobo sê markverwagtinge van ’n mielie-oes van tussen 10,4 miljoen en 12 miljoen ton is “geloofwaardig”, maar dit sal afhang van nog goeie reën, veral in die westelike deel van die “mieliegordel”.
Suid-Afrika verbruik nagenoeg 10,4 miljoen ton mielies per jaar. Sihlobo sê selfs al is die 2019-oes so laag as 8 miljoen ton, sal die land genoeg mielies hê, mits uitvoer nie te skerp styg nie. Verskeie buurlande verwag ’n tekort en kan dus meer mielies vanuit Suid-Afrika wil invoer.
Sihlobo beaam dat die syfers nie sy siening van kosprysinflasie vir 2019 verander nie. Dit gaan wel vanjaar matig styg, tot gemiddeld 5% teenoor die huidige 3%.
Wat ander gewasse betref, is Sihlobo verras dat die aanplanting van sonneblomme met 26% tot 444 000 hektaar geval het – hy het ’n styging verwag.
Nagenoeg 743 600 hektaar is onder sojabone beplant, 6% laer as in die vorige seisoen. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie