Goewerneur van Otjozondjupa rig pleidooi

Ester Kamati
Ester Kamati op Otjiwarongo – Die goewerneur van die Otjozondjupastreek, mnr. James Uerikua, het die streek toegespreek en gesê die beplanning van 'n verwysingshospitaal met 'n intensiewesorgeenheid is reeds voltooi.

Hy het gesê die bouplanne is goedgekeur en die grond is verkry en omhein, maar die konstruksie van die nuwe geriewe is vertraag.

Uerikua is van mening dié wagtyd dra by tot die geweldige druk wat bestaande geriewe tans ervaar.

“Die vertraging in die konstruksie van hierdie hospitaal oefen verdere druk uit op die plaaslike gesondheidstelsel,” het Uerikua gesê.

Hy het die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste versoek om die konstruksie van die verwysingshospitaal te prioritiseer.

“Dit sal van kritieke belang in die sentrale deel van die land wees.”

Die streek het vier gesondheidsdistrikte, naamlik Okahandja, Okakarara, Otjiwarongo en Grootfontein. Die Grootfontein-distrik strek tot by die Tsumkwe-kiesafdeling, insluitend Mangetti Dune en Gam wat sowat 400 km van dié dorp geleë is.

“Dit lei tot vele uitdagings in die verskaffing van gesondheidsorg in die Tsumkwe-kiesafdeling,” het Uerikua gesê.

Hy het bygevoeg dit is noodsaaklik dat Tsumkwe 'n alleenstaande gesondheidsdistrik word.



TEKORT AAN BEDDENS, SUURSTOF

Die streek het 'n tekort aan 200 beddens, buiten die 416 beddens wat in die verskillende distrikte beskikbaar is.

Okakarara benodig sowat 60 beddens en Okahandja het slegs 44 beddens en kort nog 50.

Die streek het tans tien suurstofkonsentreerders en benodig minstens nog 20 om aan die stygende vraag te voldoen.

Otjiwarongo gebruik tans die meeste suurstof, gemeet in liter per minuut, maar het slegs 30 liter per minuut beskikbaar en benodig sowat 600.

In totaal word in die streek meer as 1 300 liter per minuut benodig, maar daar is slegs 130 liter per minuut beskikbaar.

Slegs 10,22% van die geteikende bevolking van 19 032 is tot dusver ingeënt, terwyl die infeksiekoers op 35% op Otjiwarongo, 31,2% op Okahandja en 13,9% op Okakarara staan.

Uerikua het die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste bedank vir die voorsiening van twee ambulanse aan die Grootfontein-distrik vir die Tsumkwe-omgewing en een vir die Otjiwarongo-distrik.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!