Gorillas oornag beroemd
Gorillas oornag beroemd

Gorillas oornag beroemd

Die nuwe selfiekonings is twee gorillas van die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK).

Die gorillas het oornag sterstatus bereik omdat hulle soos wafferse Hollywood-sterre vir die kamera poseer. Die fotograaf is 'n veldwagter wat in die park werk. En toe hy sy kamera nader hark, was die twee groot menere dadelik by vir “Kamera, aksie, selfie!”

Die gorillas is inwoners van die Virunga Nasionale Park in die DRK – 'n wêrelderfenisgebied. Luidens die park se webwerf het die oorlog en gewapende stryd wat reeds 20 jaar in die gebied woed 'n groot impak op die park gehad.

Meer as seshonderd veldwagters werk in die park. Luidens die park se webwerf word hulle intensief opgelei en plaas hulle daagliks hul lewens in gevaar om die gebied se uitsonderlike natuurlewe te beskerm. Dit sluit die laaste van die wêreld se bedreigde berggorillas in.

Mathieu Shamavu, een van die veldwagters, se selfie met twee van die gorillas, Ndakasi en Matabishi, is reeds meer as 13 000 keer op Facebook gedeel. Dit word ook wyd op Twitter rondgestuur.

Op Shamavu se selfie staan die twee ewe kordaat in die agtergrond op hul agterpote en kyk vir die kamera. Agter hulle is nog 'n mens – waarskynlik een van Shamavu se kollegas – sigbaar.

Spesiale eenheid

'n Woordvoerder van die park sê Ndakasi en Matabishi bly in 'n spesiaal ontwerpe eenheid vir gorillas wat wees grootgemaak word omdat hulle die slagoffers van stropers of onwettige handelaars was.

Shamavu beskryf die foto as “nog 'n dag by die kantoor”. Hy is deel van die park se elite teenstropingseenheid wat spesifiek opgelei is om die gorillas te beskerm.

Sowat 'n derde van die wêreld se berggorillas bly in dié bergryke park.

Shamavu se foto is nie die eerste van Ndakasi en Matabishi nie. Ander veldwagters het voorheen al foto's op sosiale media gepubliseer waar hulle baie naby aan dié besondere diere is. Op een van die foto's dra 'n veldwagter selfs een van die gorillas op sy skouers rond.

'n Woordvoerder van die park sê Ndakasi en Matabishi is “vriendelik” omdat hulle gewoond is aan menslike kontak omdat hulle in 'n soort weeshuis vir gorillas gebly het voor hulle na die park verskuif is.

Duisende mense van regoor die wêreld het al op Shamavu se selfie gereageer. Yvonne Ndege, 'n woordvoerder van die Verenigde Nasies in Kenia, het die foto op Twitter geplaas en geskryf: “Sonder twyfel die Selfie van die Jaar!”

Nog 'n kommentator het in reaksie op Shamavu se verwysing na sy “kantoor” geskryf: “Wow, dis 'n ongelooflike kantoor wat jy het. Bly veilig en dankie vir die wonderlike werk wat jy doen.”

Terwyl die foto nou die kollig laat val op die Virunga Nasionale Park, is daar talle ondersteuners wat meen dis nou die regte geleentheid om 'n verskil te maak deur 'n donasie aan die park te stuur om hul bewaringswerk verder te befonds. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!