Graanmarkte se wipplankrit goeie én slegte nuus
Lae mielieprys benadeel produsente
Dr. Kobus Laubscher
Die jongste skatting van die graanoes van die Oesskattingskomitee dui op die moontlikheid van die tweede grootste mielieoes in die geskiedenis van Suid-Afrika, wat beteken die land sal sy uitvoerstatus van somergrane herwin ná die droogtes van die afgelope jare.
Wat wintergrane aanbetref, is die binnelandse aanbod steeds onvoldoende en bly invoervervanging 'n werklikheid Die aanduidings is egter dat Suid-Afrika nie maklik genoeg koring binnelands gaan produseer vir eie verbruik nie. Daarbenewens het droër toestande die aanplanting van koring in tradisionele produksiegebiede gestrem. Die verwagting van droër toestande later die jaar, strem oorwegings om koring as alternatiewe gewas te plant, sou omstandighede dit toelaat.
Daar was boere wat meer koring kon oorweeg as deel van hulle produksiestrategie, gegewe die prysneerdrukkende effek van die groot mielieoes.
Uitvoere met 'n verswakkende geldeenheid maak sin, maar die rand ry intussen wipplank en dit beteken dat betrokkenes in die waardeketting gevoelige verliese kan ly. Die internasionale mark vir grane dui op matige prysherstel as gevolg van laer aanbod en die moontlike herstel van die vraag, al is die ekonomieë ter sprake nog steeds besig om trae vraag te stimuleer. In hierdie omstandighede maak uitvoere sin, maar dit sal slim bemarking vereis.
Mielieprys
Op produsentevlak het die laer mielieprys baie negatiewe implikasies en is daar bewyse van baie lae tot selfs negatiewe ekonomiteit.
Met pryse onder R2 000 per ton en afhangende van die lokaliteit van die produsent betrokke – dit bepaal die vervoerdifferensiaal – is daar bewyse van geen wins per ton nie.
Sou dit die geval wees, kan aanvaar word dat boere se skulddelgingsvermoë ernstig in gedrang kan wees. Gelukkig beteken die oes op die lande kontantvloei en as sodanig gee dit bankbestuurders matige gerusstelling.
Volhoubaarheid bly egter onder druk en daar kan verwag word dat boere dalk nog gedwing kan word om handdoek in te gooi, tensy hulle die leners kan oortuig van voortgesette vermoë om skuld te diens. Daarbenewens is daar ook berigte van die impak van verstadigde implementverkope, wat kan beteken dat boere tegnologies agter raak.
Die belangrikste uitdaging te midde van die surplusaanbod van mielies bly die onvermoë om produkte te verwerk en as verwerkte produkte uit te voer.
In hierdie opsig word daar nie lesse geleer nie.
Sou dit moontlik wees om meer grane binnelands te verwerk, kan nie net broodnodige werksgeleentheid geskep word nie, maar valuta word bespaar en uiteindelik kan die plaasprys van dié grane produsente baat. Daar is gewoon onvoldoende beleidsondersteuning by wyse van spesifieke aansporing om toe te tree tot agro-prosessering. Laasgenoemde is al by herhaling uitgewys as 'n noodsaaklike volgende stap om volhoubaarheid te komplementeer, maar ongelukkig bly dit by praat.
Andersyds is daar ook bewyse van 'n te simplistiese beskouing van agro-verwerking wanneer dit as volgende stap ter ondersteuning van volhoubaarheid tot op plaasvlak, veral uit regeringsgeledere, gepropageer word. Markte is sodanig kompeterend dat tensy daar aan 'n reeks vereistes voldoen kan word, markte in geen opsig verplig sou voel om van ontwikkelende markte aan te koop nie.
Dit is veral die ekonomieë van ontwikkelende lande wat eerder progressief deur middel van tegnologiese ontwikkeling en gepaardgaande verhoogde voldoeningstandaarde verdere waarde ontsluit van hul eie produkte.
Dit skep doeltreffende toegangshekke vir lande soos Namibië wat daardie markte wil penetreer. Die uitdaging is dus om produkte van hoogstaande gehalte in sulke markte te kan lewer en hoe om toe te sien dat daar binne die waardeketting, veral wat rugwaartse skakeling aanbetref, nooit toegegee word aan kwaliteit standaarde nie.
Die privaatsektor verstaan dié dinamiek, die vraag is of regerings dit goed genoeg verstaan om die nodige komplementerende beleid te verseker. Ongelukkig is daar in te baie gevalle bewyse van die teendeel. Bewyse hiervan lê by aspekte soos onder meer hoe maklik of moeilik dit is om besigheid te doen in 'n land.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie