Groente bemagtig Rundu-vroue

Tanja Bause
Tanja Bause – Vier jaar gelede het me. Beatrice Sitali met ’n ondersteuningsgroep vir veral vroue met MIV/vigs op Rundu begin. Vandag kweek dié groep groente, en verdien so ’n inkomste.

“Ek het met Let’s Walk the Talk begin as ’n ondersteuningsgroep vir mense in die Kavangostreek wat met MIV/vigs leef. Ek het vinnig agtergekom die nood is baie groter, en die groep sluit nou ook slagoffers van geslagsgeweld in, asook meisies wat die skool verlaat het,” sê Sitali.

Haar ma het die behoefte om mense te help by haar gevestig toe sy baie klein was, sê sy.

“My ma, Simushi, was ’n enkelouer wat nie veel gehad het nie. Ek en my suster het daarom by my tannie grootgeword. My ma het van kleindag af altyd vir ons gesê as jy niks het nie, moenie gaan bedel nie. Staan op en doen iets. As jy bedel, sluit jy jou gedagtes af om dinge vir jouself te doen,” sê Sitali, wat nie haar skoolloopbaan voltooi het nie.

“Dit is ook een van die redes waarom ek besluit het om meisies wat die skool verlaat het, by die groep in te sluit.”

In 2017 het sy die projek, wat eers ’n ondersteuningsgroep was, omskep in ’n groep vroue wat sampioene en groente plant en verkoop.

Die Nasionale Petroleumkorporasie van Namibië (Namcor) het boumateriaal vir die sampioenkweekhuis geskenk, maar dit was nie genoeg nie.

“Ek het ’n lening by die One Economy Foundation van die presidentsvrou ontvang en die huis voltooi, en ons het toe oestersampioene begin kweek,” sê sy.

Sitali se groep is tans besig om ’n tweede kweekhuis te bou waarin die sampioene ontkiem, voor dit in nog ’n kweekhuis vir vrugvorming geplaas word.

Vanjaar is slegs ’n paar sampioene gekweek omdat humiditeit ’n kwessie was.

“Ons moet eers die humiditeitsprobleme oplos voor ons weer voluit gaan om oestersampioene te plant.

“Ons het ook begin om mahangu, botterskorsies en mutete te plant. Mutete is ’n plaaslike groentesoort wat ons hier in die Kavango aanplant. Die mense benodig ’n inkomste. Dus het ons besluit om nie net op die sampioene staat te maak nie en uit te brei,” sê Sitali.

Sy sê sy sien ’n duidelike verandering in die gemeenskap.

“Die gemeenskap word bemagtig en vroue besef hulle kan hul eie geld verdien. Hulle is minder in die sjebeens en nie meer op soek na mans wat na hulle kan kyk nie. Dit is wonderlik om te sien hoe hulle vooruitgaan en iets positiefs met hul lewe doen sonder om van ander mense afhanklik te wees,” het sy gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!