Groot kommer oor sprinkaanplaag in Zambezi

Eers was dit die droogte. Nou word mielies in die Zambezistreek deur sprinkane opgevreet.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - ’n Plaag van bruin sprinkane uit vermoedelik Botswana teister kommunale boere by Muhundu en ander nedersettings in Katima Mulilo se landelike kiesafdeling sedert verlede week en ’n groot aantal landerye met gewasse soos mielies is tot op die grond kaal gevreet.

Spanne werkers wat in die Zambezistreek ontplooi was om kommandowurms te bestry, is na die geraakte nedersettings gestuur.

Intussen is ’n span ook Sondag deur die ministerie van landbou, water en bosbou uit Windhoek daarheen gestuur om die chemiese bestrydingsaksie te help koördineer.

Mnr. Percy Misika, uitvoerende direkteur in dié ministerie, sê die probleem is baie ernstig.

Hy sê die gebied waar die plaag heers, is dig bewoon en feitlik al die boere wat gewasse verbou, het reeds skade gely.

Volgens hom gaan die bestrydingspanne se getalle deur tydelike werkers aangevul word, wat sal help om die sprinkane met die voorgeskrewe gifstof te spuit. Hy sê die bestryders moet almal beskermende klere dra.

Die swerms sprinkane kom vermoedelik uit Botswana, waar die owerhede reeds begin het om plaagbeheer toe te pas.

“Ons vermoed toe hulle daar begin spuit, het die sprinkane oor die grens na die Zambezistreek gevlieg,” sê Misika.

Hy sê hoewel die ministerie nog nie weet presies hoeveel hektaar se gewasse vernietig is nie, sal landbouvoorligters begin om ’n opname te maak.

Hy sê dit is nie ongewoon om ná ’n erge droogte vlae peste en plae te kry nie.

Volgens Misika val daar nie in droogtetye genoeg reën om skadelike insekte se eiers of ruspes weg te spoel nie, en is daar direk na afloop van ’n droogte ’n siklus van peste wat gewasverbouing knou.

Die bruin sprinkaan, of Locustana pardalina, is endemies aan die Karoo-gebiede in Suid-Afrika, asook die suide van Namibië, maar kom sover as Zambië voor.

Intussen word lande in Oos-Afrika steeds deur die ergste sprinkaanplaag in sowat 70 jaar geteister.

Die lande wat geraak word, is Somalië, Eritrea, Djiboeti, Uganda, Ethiopië, Tanzanië en Kenia.

Die Verenigde Nasies (VN) waarsku dié plaag hou ’n ongekende bedreiging vir voedselsekerheid in – dít boonop in ’n deel van die wêreld waar miljoene mense reeds honger ly.

Die Voedsel- en Landbouorganisasie (FAO) bereken 70 000 hektaar gewasse in Kenia en ongeveer 30 000 hektaar is in Ethiopië vernietig. Die sprinkane het ook in die koffie- en teeplantasies toegesak, wat ongeveer 30% van Ethiopië se uitvoere uitmaak.

CropLife SA het verlede week in ’n verklaring gesê die uitbreking bruin sprinkane in Namibië en op plekke in Suid-Afrika hou nie verband met die plaag in Oos-Afrika nie.

Daardie plaag bestaan uit die woestynsprinkaan, of die Schistocerca gregarial.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!