Groot terugslag vir kernplanne
Groot terugslag vir kernplanne

Groot terugslag vir kernplanne

'n Regter in die Wes-Kaap het gister bevind dat Suid-Afrikaanse ooreenkomste met kernkragverskafferslande ongrondwetlik en onwettig is.
Die hofuitspraak teen die Suid-Afrikaanse regering se kern­kragooreenkomste is 'n groot terugslag vir sy planne om 9,6 GW se nuwe kernkragstasies te bou, en dis nog onduidelik of die regering teen regter Lee Bozalek se uitspraak gaan appelleer.

Khulu Phasiwe, Eskom-mediawoordvoerder, sê Eskom neem kennis van die hof se uitspraak en sal die beslissing bestudeer en indien nodig later kommentaar lewer.

Hy het nie geantwoord op vrae of Eskom teen die uitspraak sal appelleer nie. Chris Yelland, uitgewer van EE Publishers en 'n gereelde kommentator oor energiesake, sê hy is seker die staat sal teen die uitspraak appelleer, en dat dit 'n massiewe terugslag vir die regering se kernkragplanne is.

Die Russiese kernkragmaatskappy Rosatom, wat as gunsteling in die mededinging vir nuwe kernkragkontrakte in Suid-Afrika beskou is, het nog nie op navrae gereageer nie.

Bozalek het in sy uitspraak die regering se ooreenkomste met kernkragverskafferlande as ongrondwetlik en onwettig verklaar en dit ter syde gestel. Terselfdertyd is Eskom se versoek om inligting wat hy reeds einde 2016 uitgereik het, ook ter syde gestel.

Die omgewingsgroep Earthlife Africa en die Suider-Afrikaanse Geloofsgemeenskappe se Omgewingsinstituut (Safcei) het in 2015 die ­regering daarvan aangekla dat hy nie die korrekte demokratiese prosesse gevolg het toe hy, sonder om oor sy planne in die parlement te debatteer, besluit het om 9,6 GW se nuwe kernkragstasies te koop nie.



Hofsaak

Die twee organisasies was gister verheug oor hul oorwinning. Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) en die Sentrum vir Omgewingsregte het ook die uitspraak verwelkom.

Die twee aansoekers het in die hofaansoeke aangevoer die regering kan nie die projek, wat tot soveel as R1 000 miljard kan kos, bekostig nie. Hulle sê die regering het in die geheim opgetree toe hy 'n ooreenkoms met Rusland as deel van die verkrygingsplan onderteken het.

Earthlife en Safcei sê die departement van energie het onwettig opgetree toe hy in Desember die verantwoordelikheid vir die kernkragtender na Eskom geskuif het aangesien die voormalige minister van energie, Tina Joemat-Pettersson, geen openbare deelname of konsultasieproses gevolg het voordat dié besluit geneem is nie.

Joemat-Pettersson het in 'n beëdigde verklaring gesê sy was nie bewus van enige reël of hof wat haar kon keer om die proses na Eskom toe te skuif nie.

Marius Oosthuizen SC, wat die regering verteenwoordig, het in teenargumente gesê die ooreenkoms wat met Rusland onderteken is verteenwoordig nie 'n handelsooreenkoms nie, maar was net 'n samewerkingsooreenkoms.

Hy het daarop gewys 'n internasionale ooreenkoms tussen twee lande om saam te werk vereis nie 'n debat in die parlement nie.

Oosthuizen het aangevoer die regering is binne sy reg om 'n beleid soos dié oor kernkrag as deel van Suid-Afrika se energieplan sonder debat op te stel.

Verskeie energiekenners meen kernkrag is onnodig, want die vraag na krag is nou laer as wat voorheen gereken is. Hulle sê ook dit sal té duur wees.

- Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!