Gróót planne vir Oranjemund
Oranjemund se dorpsraad vorder met die meesterplan vir die transformering van hierdie myndorp na ’n selfstandige, florerende dorp.
Ronelle Rademeyer - Groot treë is sedert Oktober 2017 gegee toe Oranjemund met sy sowat 10 000 inwoners letterlik uit sy isolasie gebars en sy toegangshek vir die buitewêreld oopgeswaai het.
Die toestroming van mense van buite plaas tans druk op die dorpsraad om in die behuisingsbehoeftes te voorsien. Altesaam 150 gedienste erwe is reeds vir laekostebehuising beskikbaar gestel en ‘n verdere 300 erwe gaan gediens word.
Verder is sowat 90 persent van eiendomme al deur die myn aan die plaaslike owerheid oorgedra en sal die kooptransaksies beklink word sodra die prysbepalings gedoen is.
Dié dorp aan die Oranjerivier in Namibië se mees suidwestelike hoek van die land, was tot 18 maande gelede ‘n dorp wat in sy totaliteit aan die myn behoort het.
Oranjemund is in 1936 deur Sir Ernest Oppenheimer se diamantmaatskappy, Consolidated Diamond Mines of South West Africa (CDM), gestig. In 1994 het dié maatskappy ‘n vennootskapsooreenkoms met die Namibiese regering gesluit en Namdeb het tot stand gekom.
Omdat dit in die Sperrgebiet (of verbode diamantgebied) geleë is, kon mense van buite dit net besoek as hulle vooraf vir ‘n permit aansoek gedoen het.
Die visie het egter ontstaan om Oranjemund om te skakel in ‘n dorp waar die inwoners self die residensiële en kommersiële eiendom besit, met ‘n plaaslike owerheid wat vir die lewering van dienste en die bestuur van die dorp verantwoordelik is.
Suiderland het onlangs besoek gebring aan mnr. Shali Akwaanyenga, uitvoerende hoof van die dorpsraad, om oor die vordering te gesels.
Hy het verduidelik hoe die proses van ontsluiting tot nou toe verloop het. Oranjemund is in 2011 as ‘n dorp geproklameer en die eerste dorpsraad is in 2012 verkies. Akwaanyenga is sedert 2014 aan die stuur van sake.
Hy sê daarna het die beplanning vir die transformasie van die dorp in 2015 volstoom afgeskop.
“Hierdie is ‘n gemeenskap wat nooit voorheen eiendom besit het of vir dienste betaal het nie. Die proses behels dat ons die inwoners ware burgers van die dorp moet maak soos dit in ander dorpe in die land die geval is.
“Daarom is op drie pilare ooreengekom waarvolgens die proses sal gebeur. Op Engels is dit die drie T’s: ‘transfer’, ‘transition’ en ‘transform’. Die eiendom en infrastruktuur moet aan die plaaslike owerheid oorgedra word, wat dit weer aan inwoners verkoop. Sosiale en maatskaplike dienslewering soos die skool en die hospitaal is deur die myn aan die gemeenskap gebied. Dit moet ook verander.
“Laastens moet die plaaslike ekonomie gediversifiseer en ontwikkel word sodat groei en vooruitgang kan geskied,” verduidelik Akwaanyenga.
Hy sê die Oranjemund 2030-program (OMD2030) is van stapel gestuur om die gemeenskap op alle vlakke by die proses te betrek.
TOESTROMING
Volgens Akwaanyenga is die stygende waterverbruik op die dorp ‘n aanduiding van die hoeveel mense hulle sedert Oktober 2017 daar gevestig het.
Dit is omdat baie mense van elders af daar kom woon het om naby hul families te wees.
Die dorpsraad wil verhoed dat plakkerskampe opskiet, maar is terdeë bewus van hoe groot die behoefte aan ultra-laekostebehuising is. Daarom is 100 gedienste erwe aan die Build Together-skema beskikbaar gestel, 50 gedienste erwe is vir die Shack Dwellers-vereniging gegee en ’n verdere 150 vir ander soortgelyke skemas.
“Die gedienste erwe is in uitbreiding 10 geleë. Ons plan is om nog 300 erwe soos hierdie in uitbreiding 11 te diens en beskikbaar te stel,” sê hy.
“Op die oomblik is die druk op die sosiale dienslewering ewe groot. Benewens die Oranjemund Privaatskool en die staatskool Ambrosius Amutenya, het ons grond beskikbaar gestel vir nog ‘n staatskool met ‘n koshuis, asook vir ‘n kliniek.”
Hy verduidelik omtrent 90 persent van die eiendomme op die dorp is al aan die dorpsraad oorgedra. “Ons het egter nog nie die waarde van die verbeterings op daardie eiendomme klaar bereken nie. Voor dit nie gebeur nie, kan verkoopstransaksies nie beklink word nie.”
Die ander uitdaging is om ekonomiese groei te stimuleer.
Hy sê toerisme is ’n manier om geld na die plaaslike ekonomie te laat vloei. Oranjemund se ligging in die ongerepte Sperrgebied en Tsau //Khaeb Nasionale Park is ‘n groot trekpleister.
Hoewel toegang tot die park verbode is, is daar planne om dit wel op ‘n konsessiegrondslag vir toeroperateurs oop te stel wat 4x4-toere met die kus langs tussen Oranjemund en Lüderitz wil aanbied.
In hierdie stadium moet besoekers uit die Noord-Kaap via Rosh Pinah en Aus na Lüderitz ry.
Akwaanyenga sê die dorpsraad werk nou met die ||Kharasstreeksraad, die regering in die Noord-Kaap en die Noord-Kaap Toerismeraad saam om die toerismepotensiaal beter te ontsluit.
‘n Luukse leefstylontwikkeling bekend as die Marina word ook deur private ontwikkelaars beplan.
Verder is daar ook planne vir nog vulstasies en ‘n inkoopsentrum op die dorp, sê hy.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie