• Tuisblad
  • Sake
  • H&M ‘aangemoedig om aankope in SA te doen’

H&M ‘aangemoedig om aankope in SA te doen’

Francois Williams - Die Skandinawiese klerekleinhandelaar H&M sal aangemoedig word om plaaslike en Afrika-verkryging te doen wanneer sy internasionale aankope-span oor die volgende paar weke na Suid-Afrika kom.

Ebrahim Patel, minister van ekonomiese ontwikkeling, het Donderdag in sy begrotingspos-debat in die parlement gesê sy departement het met H&M geskakel ná die omstrede voorval in 2017 toe H&M ’n advertensie gehad het van ’n swart seun met ’n kledingstuk waarop staan “Coolest monkey in the jungle”.

“Toe ons in die weke ná die voorval met H&M gepraat het, het ons gesien al hul produkte is ingevoer. Ná hul verskoning en as deel van die heroriëntasie van H&M se siening oor Afrika, het ons voorgestel hulle doen baie praktiese boetedoening deur goedere van Suid-Afrika aan te koop,” sê Patel.

Die H&M-verkrygingspan sal binne die volgende paar weke moontlike plaaslike verskaffers besoek.

Mededingingskommissie

Die Mededingingskommissie kry die grootste deel van die departement van ekonomiese ontwikkeling se begroting van R1,07 miljard, wys syfers uit Patel se begrotingspos-toespraak.

Die kommissie kry R282 miljoen.

Patel het daarop gewys dat heelwat van die departement se begroting van R1,07 miljard uit die private sektor kom. Die R30 miljoen wat aan die Staalmededingingsfonds gaan, kom gedeeltelik van die boete wat die staalvervaardiger ArcelorMittal moes betaal, en die R240 miljoen aan die Tirisano-fonds kom ook deels uit bydraes van die private sektor wat die geld eers in die staatskas betaal het.

Patel het gewys op die sukses sover van sy departement se ingrepe by samesmeltings en verkrygings. Massmart, wat deur die Amerikaanse kleinhandelreus Walmart oorgeneem is, het al R800 miljoen se bestellings geplaas by klein opkomende verskaffers as deel van die Massmart- verskaffersontwikkelingsfonds. Van die verskaffers het selfs daarin geslaag om uitvoergeleenthede na ander Walmart-bedrywighede in die res van die wêreld te vind.

Patel spog die klerekleinhandelaar Edcon het plaaslike verkryging verbeter, wat tot die skep van 500 ekstra werkgeleenthede gelei het.

By die Appletiser-groep het swart beheer van 0% tot 21% verbeter danksy die departement se werk om swartbemagtiging te bevorder.

Patel sê die Industrial Development Corporation (IDC), wat onder sy departement se toesig val, was in November die eerste openbare instelling wat amptelik ’n eis by die hof ingedien het om geld van die Gupta-beheerde Oakbay te verhaal. Die eis is vir sowat R287 miljoen wat die IDC aan Oakbay geleen het.

Volgens Patel is die Wysigingswetsontwerp op Mededinging in Desember gepubliseer en sal die wetgewing in die komende jaar deur die kabinet afgehandel en in die parlement ter tafel gelê word.

Patel sê dit is ’n omvattende hervorming van die Mededingingswet, wat al byna 20 jaar oud is.

Die mededingingsowerhede sal vanjaar 100 gevalle van kartelgedrag ondersoek, asook 400 samesmeltings oorweeg.- Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!