Happy Land se noodkreet
Me. Carmen Hoases het feitlik onbewus die anker geword waaraan klein handjies klou.
Des Erasmus - Wanneer duisende Namibiërs in die winter voor slapenstyd hul donskomberse sprei, huil ‘n peuter op Hentiesbaai se Suidduin van hartseer en van pyn. Ná net 20 maande in die lewe is sy sonder haar toedoen of medewete ‘n verstoteling in die sorg van ‘n besondere vrou van die Kindergarten & Safe Haven, Happy Land.
Een van die armpies is lelik in die vlam van huisgeweld verbrand en die flou oë staar ondanks sagte handbewegings net voor haar uit.
Me. Carmen Hoases van die velige hawe het feitlik onbewus die anker geword waaraan klein handjies klou. Wanneer dit nag word, is daar nie medisyne of skadelose pynstillers vir ‘n weggooikind nie. Daar is nou 18 hawelose kinders wat hier ‘n reddingsboei gekry het. Hulle vorm ‘n aanvullende kroos tot die vyf eie kinders wat ook die lewe onder die een dak tegemoet gaan. Maar oor die onderdeur van die buurmense oorkant Hentiesbaai se hoofstraat groet ‘n vriendelike Carmen met die wegry. Sy kan nie meer nie, sê sy.
Nogtans dra die oord, wat veronderstel was om net ‘n kindertuin te wees, die trotse naam Happy Land. ‘n Inskripsie teen ‘n buitemuur lui: “Through play we learn”. Ook op die perseel verskyn met trots die embleem van die diensorganisasie, die Lions, wat die hand steeds reik wat langer in die verlede reeds uitgesteek was. Dis amper vieruur in die middag en tyd vir die broodwinner om huis toe te kom.
Voordag was hy as bestaansvisser van die Hanganeni-aanleg reeds weg vir ‘n inkomste waarmee gelas en gepas word om al die monde te voed. ‘n Seuntjie op ‘n trapfiets beur uit toe die onderdeur oopswaai en werfhonde speel saam in die stofstraat met rousteenmure en gewone draadheinings om elkeen se eie erfie af te baken. Dis kortstondige vryheid en vreugde wat daarbuite wag.
Oor die voorval waarin die kleinding haar brandwonde opgedoen het, word nie gevra nie. Martje Grobler, self ‘n Lion en die diensorganisasie se eie, opgeleide welsynwerker, sê dit was erg, báie erg. Elke maand gee die Lions ‘n bepaalde bedrag. Alles word vir verbruikersgoedere aangewend om die monde te voed.
“Elke sent word gerek, alles net vir kos. Die kinders ken nie eers vrugte nie,” sê sy.
Dan vertel sy Carmen se doel was nie so ‘n tuiste nie. Sy wou van die Happy Land bloot ’n bewaarskool vir die kleinspan van werkende ouers maak, onder wie ook ouers wat nie kon betaal nie. Toe versprei die nuus van haar liefdeswerk. Mense en instansies het verstote kinders al hoe meer op haar aangewys. Selfs die polisie het so ‘n verwese kleinding ingebring.
Nou is 18 kinders van die baba tot 17 jaar in haar sorg. ‘n Gewone woonvertrek dien as slaapsaal met die matrasse wat sy aan sy op die vloer lê en bedags uitgehang word. Die seuns en meisies slaap almal daar.
Grobler het reeds op soek na bystand by die staat se welsyndienste aangeklop met samewerking wat van Walvisbaai onderneem word. “Dit gaan nie net om die fisieke versorging van die kinders nie. Daar’s trauma en in baie gevalle is berading dringend nodig. Al is daar fisieke versorging van die kinders, moet dringende aandag aan hul emosionele toestand gegee word.”
Oor die mediese versorging van die kinders wys sy op een kind wat aan epilepsie ly. Die pasiënt moet dringend Windhoek toe vir onder meer toetse en skanderings. Op só ‘n reis sal bystand deur ‘n kundige versorger ’n vereiste wees. Dit kos geld, en geld is daar nie. Dís waar bystand deur die staat gesoek word.
Nog ‘n voorbeeld is vier van Happy Land se seuns wat vir ‘n sokkerspan gekies is wat in Windhoek moet gaan speel. ‘n Vereiste is dat vir elke speler N$350 bygedra moet word vir reis- en ander koste. Daai geld is daar nie. Hulle moet dus aan die span onttrek word. Daarvoor het die betrokke seuns geen begrip nie en hulle weet nie hoe om dit te verwerk nie. Weer eens is dit ‘n geval van berading wat gedoen moet word.
“Elf van die 18 kinders is tieners wat die weg gewys moet word. Vir Carmen is dit 24 uur per dag, 365 dae per jaar. Sy moet dringend ondersteuning kry.
“Soos sake nou staan, is dit net ‘n geval van oorlewing,” sê Grobler.
“Waarna gestreef word, is om die lewe vir die kinders ‘n bietjie te verbreed.”
Grobler is ‘n opgeleide welsynwerker. Haar man was ‘n bankbestuurder in Suid-Afrika en verlede jaar in Maart het hy afgetree en het hulle na Hentiesbaai verhuis.
“Nou kan ek myself uitleef, want maatskaplike werk was nog altyd in my hart,” sê sy.
Grobler kan by 081 609 9133 gekontak word.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie