Hardap se goewerneur in ongeluk naby Oshivelo beseer

Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Die goewerneur van die Hardapstreek, me. Esme Isaack, is vroeg Maandagaand beseer toe haar amps­motor naby Oshivelo met ’n rooi Toyoto Hilux-bakkie gebots het.
Die ongeluk het om 17:58 naby die Oshifukwa-nedersetting plaasgevind toe die bestuurder van die bakkie glo die hoofpad wou oorsteek.
Isaack was saam met mnr. Paul Maviaro (60) vanaf Oshakati na Oshivelo onderweg toe die ongeluk plaasgevind het. Haar ampsmotor, ’n wit BMW, is deur die 35-jarige mnr. David Kooper bestuur. Isaack en Maviaro is na die Medi­Park private hospitaal op Ongwediwa geneem om vir hul beserings behandel te word.
Nampa berig Isaack het ’n kniebesering opgedoen. Verskeie mense het haar sedertdien op Facebook spoedige beter­skap toegewens.
Mnr. Fillipus Kamati Namupala (60), die bestuurder van die bakkie, het ernstige beserings opgedoen en is later die aand in ’n kritieke toestand van die hospitaal op Omuthiya na die staatshospitaal op Oshakati oorgeplaas. Mnr. Shuudi Simon Sheya (61), wat saam met hom in die bakkie was, het hoofbeserings opgedoen, maar sy toestand is minder ernstig. Hy word ook in die staatshospitaal op Oshakati behandel.
Adj.komm. Naomi Katjiua, hoof van misdaadondersoekkoördinering in die Oshikotostreek, het die voorval aan Nampa bevestig en sê die polisie op Omuthiya ondersoek die moontlikheid van roekelose en nalatige bestuur.
Isaack was op Oshakati vir die opening van die 2016 sport- en rekreasiespele vir plaaslike owerhede.
Die ongeluk het op byna dieselfde plek plaasgevind as waar 15 mense vroeër vanjaar gesterf het toe ’n vragmotor van voor teen die bus waarin op reis was, gebots het.- Eie berig en Nampa

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!