Harry tree in, vervang Junias
Boks
Andrew Poolman – Harry Simon Junior sal Saterdagaand sy bes doen om boksliefhebbers eerder oor sy vertoning binne die kryt as oor die sportpolitiek buite die kryt te laat praat.
Die onoorwonne superliggewig (13 gewen, tien uitklophoue) is bespreek vir 'n herontmoeting teen Dominicus Weyulu as deel van die Meidag-toernooi wat Imms Moses se Africa Connection Promotions aanbied.
Die venue vir die ses beroepsgevegte is die NamPower-konferensiesaal.
Simon het onlangs die MTC Sunshine-kamp verlaat, met dié se promotor Nestor Tobias wat 'n mediaverklaring uitgereik het om te sê die promosie is hiertoe gedwing vanweë die vegter se ongespesifiseerde “gebrek aan dissipline”.
Simon is betrek om vir dié geveg die plek in te neem van die gevalle Olimpiese bokser en Statebond-kampioen van 2018, Junias Jonas, wat in aanhouding bly nadat hy onlangs op Swakopmund op aanklag van poging tot moord en die aanranding van 'n polisiebeampte in hegtenis geneem is.
By 'n oefensessie en mediageleentheid gisteroggend het Simon aan die media gesê hy verwag dat Weyulu selfs 'n beter vertoning as in hul eerste ontmoeting sal lewer.
“Weyulu is sterk en hy is vinnig, hoewel sy gebrek aan lengte tot my voordeel is. Ons vorige geveg was 'n oorlog en het die beste in my na vore gebring. Hy verdien 'n herontmoeting, maar ek verwag steeds om hom binne vier rondes klaar te maak.”
Simon sê sy aansluiting by AC Boxing is die regte resep vir sy loopbaan.
“Die laaste twee weke se oefenkamp was die beste van my lewe. Ek kan vooruitgang sien met die verskillende taktieke waaraan ons gewerk het.
“Die feit dat ons teen manne van verskillende boksgimnasiums skermoefeninge het, is 'n groot voordeel – nie soos tevore waar jy teen dieselfde ouens van jou klub dieselfde roetine volg nie.
“Met Martin Angombe as die kondisioneringsafrigter word ons ook gehelp om ons ware potensiaal te bereik.”
Republikein het die twee se eerste geveg in Maart 2019 soos volg beskryf: “Simon Junior het met oortuiging die taai, maar beperkte aanslag van Dominicus Weyulu afgeweer. Die lenige jongman het reeds in die eerste ronde die bonkige Weyulu se knieë laat knak en het in die latere rondes sy steekhou doeltreffend gebruik.
“In die vierde en laaste ronde van hul nie-titelgeveg het Simon sy opponent 'n tweede keer planke toe gestuur en hoewel Weyulu opgestaan het, het skeidsregter Patrick Esterhuizen die geveg stopgesit toe laasgenoemde daarna weer in die pekel beland het.”
HOOFGEVEG
Flame Nangolo, een van die land se hoog gerekende jong vooruitsigte, word in die hoofgeveg teen sy landgenoot Gustav Petrus opgeweeg. Nangolo het sover elk van sy vyf beroepsgevegte gewen.
Hy het gister in sy media-onderhoude oorgeloop van selfvertroue.
“Ek sien die geveg as 'n kans om nader aan my beste vertoning te ontwikkel. Ek is net tevrede dat ek weer kans kry om te veg, om my vaardighede te wys en om 'n opponent 'n pak slae te gee.
“Hierdie ou het nog nooit iets gedoen waaroor ek bekommerd moet wees nie. Ek sal op die aand oordeel of ek lus is om die ou te straf en met hom te speel, en of dit nodig is om hom gou uit te slaan.
“Sy lot hang ten volle van my af. Hy is maar net die volgende ou wat voor my geplaas word om in my pad te staan.” Nangolo sê sy oefenkamp vir die geveg was baie hard.
FOTO
Die talentvolle jong Flame Nangolo tydens gister se ope oefensessie vir die media. Foto Limba Mupetami

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie