Haweloses sleep munisipaliteit hof toe
Haweloses sleep munisipaliteit hof toe

Haweloses sleep munisipaliteit hof toe

Inwoners van Otjomuise het 'n dringende hofaansoek ingedien om te keer dat die munisipaliteit en stadspolisie voortgaan met die afbreek van plakkershutte.
Jacqueline Louw
Jacqueline Louw



Regter Shafimana Ueitele het laat Woensdagmiddag 'n bevel in die Windhoek-hoërhof gemaak in 'n dringende aansoek van 15 inwoners van 7de Laan in Otjomuise, wie se huise die vorige dag deur die munisipaliteit en stadspolisie afgebreek is.

Die regter het beveel die munisipaliteit mag nie enige plakkershuis wat aan die applikante behoort, afbreek of verwyder totdat die aansoek gefinaliseer is nie. Sy hofbevel het ook voorsiening daarvoor gemaak dat die eerste aansoeker, me. Christine Likuwa, 'n enkelma van drie jong kinders, deur die munisipaliteit gehuisves moet word.

Ten spyte van die regsverteenwoordiger, Kadhila Amoomo, se versoek namens die applikante dat alternatiewe behuising aan al 15 verskaf moet word, het Ueitele gesê dat net Likuwa spesifiek haar omstandighede uiteengesit het en sy dus die enigste een is aan wie hulp verleen sal word.

In hul aansoek vra die aansoekers vir 'n bevel wat die raad van die Windhoek-munisipaliteit en die stadspolisie verhoed om sonder magtiging met die beweerde onwettige uitsetting van inwoners in die gebied voort te gaan.

Hulle het die hof verder versoek dat enige verdere afbreek van plakkershutte stopgesit moet word en dat geen boumateriaal van inwoners uit die gebied verwyder moet word nie. Hulle het ook versoek dat boumateriaal waarop Dinsdag beslag gelê is, aan hulle teruggegee word.

Die aansoekers het voorts versoek dat die munisipaliteit hul huise herbou.

In die tweede deel van hul aansoek vra hulle die hof om die besluit van die munisipaliteit en die stadspolisie om plakkers se huise af te breek en hulle uit hul huise te gooi, te hersien, onwettig te verklaar en ter syde te stel.

Die Regstellende Herposisioneringsaktivis, mnr. Job Amupanda, was ook in die hof om die aansoekers by te staan. Volgens hom was die uitsetting van die plakkers onwettig omdat die munisipaliteit en polisie geen hofbevel gehad het nie.

Mnr. Ben Ngairome, 'n regsadviseur van die munisipaliteit, het Republikein meegedeel dat die munisipaliteit orde moet handhaaf.

“Ons kan nie mense toelaat om grond te beset wat nie eens aan die munisipaliteit behoort nie. Die plakkershuise is ook gevaarlik vanweë die potensiële brandgevaar wat dit inhou,” het hy gesê.

Hy het ook genoem dat daar mense is wat onwettige strukture oprig en dit dan uitverhuur.

In haar beëdigde verklaring sê Likuwa dat die Namibiese republiek gegrond is op die beginsels van demokrasie, die oppergesag van die reg en geregtigheid vir almal.

“Die reg op waardigheid en gelykheid is van toepassing op alle persone in Namibië,” lui haar beëdigde verklaring.

Likuwa het ook die omstandighede beskryf waaronder sy en haar kinders Dinsdagoggend deur lede van die stadspolisie uit haar plakkerswoning verwyder is.

Nadat die polisie hard aan haar deur geklop het en sy geweier het om oop te maak, het hulle na bewering gesê hulle sal 'n laaigraaf gebruik en die hut saam met Likuwa en haar kinders wegploeg.

Ueitele het die saak tot vandag uitgestel om die munisipaliteit en die stadspolisie die geleentheid te gee om beantwoordende beëdigde verklarings te liasseer.

Die aansoekers is deur mnre. Amoomo en Henry Shimutwikeni verteenwoordig en adv. Thabang Phatela het namens die respondente opgetree het.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!