Heelwat jong ingenieurs is werkloos
Estelle de Bruyn
Jong gegradueerde Namibiese ingenieurs het by die kantoor van die eerste minister, me. Saara Kuugongelwa-Amadhila, gaan aanklop omdat hulle nie werk kan kry nie.
Dit is enersyds omdat die instansies waar hulle hul kwalifikasies verwerf het, nie in die land deur die ingenieursraad van Namibië of die nasionale kwalifikasie-owerheid erken word nie, en ook omdat hulle nie oor die nodige praktiese ondervinding beskik nie.
Tydens die bekendmaking van kabinetsbesluite het die minister van inligting en kommunikasietegnologie, mnr. Tjekero Tweya (foto), gesê die kabinet het nou opdrag aan die ministerie van hoër onderwys, opleiding en vernuwing gegee om alle graduandi van eksterne universiteite by te staan sodat hul kwalifikasies deur die Namibiese Kwalifikasie-owerheid (NQA) en hul kundigheid deur die Ingenieursraad van Namibië geëvalueer kan word.
Die raad moet ook verseker dat hulle aan die bestaande standaarde voldoen en gapings in hul opleiding moet geïdentifiseer word sodat die aanvullende opleiding wat hulle nodig het, bepaal kan word.
Die Finansiële Hulpfonds vir Namibiese Studente (NSFAF) is ook opdrag gegee om gehaltebeheerinstansies te raadpleeg voordat studente na buitelandse universiteite gestuur word en met die hulp van die ingenieursraad seker te maak dat leerplanne aan die universiteite voldoen aan die standaarde wat deur die NQA gestel word.
Namibiese studente moet ook aangemoedig word om aan plaaslike instansies te studeer, om die uitdagings om in die arbeidsmark opgeneem te word die hoof te bied.
Die ministerie van hoër onderwys, opleiding en vernuwing moet saam met die ministerie van werke en vervoer, die Nasionale Raad vir Hoër Onderwys (NCHE) en die ingenieursraad werk om die proses van akkreditasie en registrasie van opleidingsinstansies en opleidingsprogramme meer vaartbelyn te maak.
Die ministeries van werke en vervoer asook myne en energie is opdrag gegee om internskappe en werksgeleenthede vir graduandi in die konstruksie-, mynbou- en energiesektore te fasiliteer.
’n Opleidingsfonds sal ook op die been gebring word om vir praktiese opleidingskoste en internskappe te betaal. Sodoende sal die betrekkinge met die ingenieursraad, die kamer van mynwese, die Namibiese kamer van handel en nywerheid (NCCI) en ander instansies versterk word, wat weer op hulle beurt hul lede sal aanmoedig om werksgeleenthede aan gegradueerdes te voorsien.
Die ministerie van hoër onderwys, opleiding en vernuwing moet alle nodige dokumentasie insluitende volledige leerplanne, waarin besonderhede van ingenieurskursusse gegee word, asook transkripsies van finale jaar tesisse aanvra van al die buitelandse universiteite waar Namibiërs studeer om hul registrasieproses by die ingenieursraad te versnel. Die betrokke ministeries sal ook kwartaalliks aan die kabinet moet terugvoer gee oor die vordering wat gemaak word.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie