Hewige vloed tref Erongo

Voertuie uit diep water gesleep; spoorlyn spoel weg.
Des Erasmus
Des Erasmus - Twee mense het ná oorstromings by Omaruru verdrink, verkeer tussen Wilhelmstal en Otjimbingwe is in die oostelike gebiede van die Erongostreek afgesny, en die gewilde oase Goanikontes, langs die Swakoprivier, kon gister net van Walvisbaai af bereik word.

Sedert Saterdag kry die Omeldam by Hentiesbaai water nadat die vloed in die Omarururivier meer as ‘n week gelede die dam oos van Hentiesbaai net-net bereik het.

Treinverkeer na die Noorde is onderbreek met die verspoeling van ‘n deel van die spoorlyn tussen die Kranzbergstasie en Omaruru op die roete tussen Karibib en die Noorde. Dit het gelei tot die ontsporing van ‘n trein met ernstige skade aan ‘n splinternuwe lokomotief. Die ontsporing en skade is deur TransNamib in ‘n amptelike verklaring bevestig.

Saterdag het die meeste dorpe in die binneland van die Erongostreek sonskynweer geniet, maar swaar reën was weer vir gister voorspel. Saterdagnag het die Omarururivier weer afgekom, dié keer oor sy walle. Die water het tot oor die grense van oewerpersele gestoot, maar ernstige skade is nie aangemeld nie.

Die dodetal by Omaruru kan selfs hoër wees met beweringe gisteroggend dat die polisie op die oewerlandskap na nóg vermistes soek. By Nai-Nais, Uis se waterbron in die Omaruurivier, is twee toeriste met ‘n helikopter uit ‘n boom gered nadat hulle vir hul lewens gevlug het (sien bl. 1).

Die rivier van die dood was Vrydagaand die Oturenda, ‘n takriviertjie naby die tradsionele woonbuurte.

Die rivier is diep, maar het in jare geen water gehad nie. Voetgangers het nogtans van ‘n sementdriffie met reëlings aan die kante gebruik gemaak. Toe die rivier Vrydagaand afgekom het, het ‘n jong man van ‘n geskatte 17 jaar en ‘n meisie deur die water probeer gaan deur aan die reëlings te hou. Die stroom van ‘n geskatte meer as twee meter het die twee jong mense meegesleur, maar die man het daarin geslaag om die wal te bereik en daar aan takke en wortels vas te klou tot hy uitgekom het. Tot gister was die naam van die oorledene nog nie verstrek nie.

‘n Tweede verdrinking het blykbaar Vrydagaand in die betrokke rivier plaasgevind toe ‘n bakkie weggespoel het en ‘n man verdrink het, maar besonderhede is nie verstrek nie.

Mnr. Francois Cronjé van die insleep- en nooddiens Pit Bull op Usakos het gisteoggend gesê twee voertuie is Vrydag en Saterdag uitgesleep waar dit tussen Wilhelmstal en Otjimbingwe tot aan hul aste in waterstrome vasgesit het. Talle ander mense se voertuie is deur die insleepdiens deur die water gehelp sodat insittendes by hul huise kon kom. Mense in die driehoeksgebied tussen Karibib, Wilhelmstal en Otjimbingwe is gister steeds teen fratsvloede gewaarsku. Volgens Cronjé het groot stukke van die pad tussen Wilhelmstal en Otjimbingwe heeltemal weggespoel.

Volgens TransNamib het die spoor tussen Omaruru en Karibib sowat 40 km van die Kranzbergstasie weggespoel. Swaar toerusting sal vir opvullingswerk gebruik moet word. TransNamib het geen aanduiding gegee van hoe lank die verbinding na die Noorde onderbreek gaan word nie. Dit is ook die poort van die Walvisbaaihawe na die Noorde.

Gistermiddag om 13:45 het mnr. Koos Marais van Waterwese op Hentiesbaai bevestig dat die Omdeldam baie water gekry het ná die vloed in die Omarururivier uiteindelik heeltemal deurgebreek het.

Intussen kruie die water in die Swakoprivier al hoe nader aan die vakansieoord en die see. Gistermiddag was die sogenaamde sandgate reeds vol met die vloed wat aangestoot het na die ou sandgate. Die voorpunt van die water was toe nog sowat 15 km van die see. Hoër op langs die Swakoprivier is gisteroggend van Goanikontes af berig dat ‘n sterk stroom steeds in die Swakoprivier bruis.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!