Higiëniese maatreëls vir informele markte sal bly
Die maatreëls vir die heropening van oop- en informele markte oraloor die land is by Woensdag se Covid-19-inligtingsessie uiteengesit.
Elvira Hattingh
Handelaars by informele markte moet aanvaar die maatreëls vir higiëne wat tans ingestel word, het gekom om te bly.
Die burgemeester van Windhoek, me. Fransina Kahungu, het Woensdagoggend tydens die daaglikse inligtingsessie by die Covid-19-kommunikasiesentrum gesê mense moet aanvaar dat dit voorts die standaard sal wees waarvolgens oop markte sal moet handel dryf.
“Daar sal nie teruggekeer word na die vorige omstandighede nie. Daar sal geen kans in die toekoms wees om die regulasies, soos hulle tans afgekondig word, te verander nie.
“Wat wel sal kan verander, is die aantal mense wat toegelaat word om markte te besoek,” het Kahungu gesê.
Dit volg op nuus dat oop- en informele markte oraloor die land voorts toegelaat sal word om te heropen, maar volgens streng voorskrifte.
'n Gesprek hieroor, asook toegang tot water vir arm en werklose mense is verlede week deur die burgemeester asook die minister van stedelike en landelike ontwikkeling, mnr. Erastus Uutoni, en die adjunkminister van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS), me. Esther Muinjangue, gevoer.
MOEILIKE BESLUIT
Uutoni het verduidelik die besluit om die markte oop te stel, is daarop gebaseer dat die meerderheid mense met 'n beperkte inkomste hul bestaan uit die verkoop van produkte by oop markte verdien.
Hulle kan ook slegs hul families deur verkope ondersteun.
Hy sê aangesien infeksies verminder het, is daar besluit om mense toe te laat om hul produkte te verkoop – ook om die las op die regering te verminder om dié mense te onderhou.
Uutoni sê oop markte is van die belangrikste besighede wat die grondslag van die ekonomie vorm en hoë standaarde van higiëne kan meer kliënte na die markte lok.
Hy meen boonop sal maatreëls wat tans ingestel word, beteken Namibië se oop markte is beter voorbereid vir soortgelyke gebeurtenisse in die toekoms.
Hy het gesê Windhoek beskik oor sowat 18 informele markte, waarvan almal nie tans oopgestel kan word nie.
Slegs vier sal dié week heropen en die res in die komende weke.
“Dit is duur om markte oop te maak. Natuurlik help die vier markte nie die hele gemeenskap nie. Dit beteken leiers moet voorts met straatverkopers in verbinding tree en van die rotering van handelaars in kennis stel, sodat meer van hulle deel hiervan kan vorm.”
NOODSAAKLIKHEDE
Kahungu sê die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste het voorlopig goedkeuring gegee om die Oshetu-mark te heropen.
Sy sê noodsaaklike items sal by alle informele markte verkoop kan word, wat voedsel en hout vir vuurmaak insluit. Sy sê daar sal nog besluit word oor die verkope van tweedehandse klere op die markte.
Uutoni het uitgebrei dit sal insluit vars en gekookte groente en vrugte, asook rou of gekookte vleis en vis, gedroogde kosse, suiwelprodukte asook grane, meel en kosse wat gaargemaak en gereed is om te eet.
Hy het ook gesê daar sal nie by markte self gekook word nie, maar fasiliteite om kos warm te maak, moet deur plaaslike owerhede by die markte beskikbaar gestel word.
Kahungu het gesê handelaars moet die munisipaliteit “halfpad” ontmoet as dit by die verskaffing van handontsmetmiddels kom, aangesien die munisipaliteit nie alleen dit kan voorsien nie.
Sy sê handelaars moet aan die maatreëls gehoor gee, óf hulle sal nie toegelaat word om sake te doen nie.
“Die Windhoek-munisipaliteit sal probeer om handelaars te ondersteun, waar nodig.
“Ons verstaan tans almal moet eers aan basiese behoeftes aandag gee, soos om kos te koop, maar ná 'n week se verkope, verwag ons mense sal die nodige vereistes nakom.”
MAATREËLS
Muinjangue het verduidelik informele markte moes gesluit word omdat dit dikwels groot skares lok.
“Van die ministerie se kant moet ons verseker daar word voldoen aan openbare gesondheid asook voedselhigiëne,” het sy gesê.
Sy meen die pandemie bied 'n geleentheid vir dié maatreëls om voorts permanent toegepas te word.
Sy sê van die vereiste maatreëls op hul lys is dat markte self, asook die werksoppervlaktes ontsmet moet word. Daar moet water en werkende toilette beskikbaar wees, terwyl informele handelaars voortdurend oor gesondheid en higiëne opgelei sal word.
Sy sê as dit kom by die beheer van mense by die markte, is besluit die handelaars moet roteer sodat daar nie te veel verkopers tegelykertyd teenwoordig is nie. Hulle het roosters ontvang wat aandui wanneer hulle mag handel dryf.
Muinjangue sê plekke is gemerk waar handelaars hul stalletjies kan oprig, terwyl besoekers by sekere deure moet inbeweeg om hul hande te was, en dan by 'n ander deur uit te gaan.
Besoekers sal ook buite die markte in rye op afgebakende plekke staan.
Sy het gesê die besluit om die markte oop te stel, was nie maklik nie. “Beheer is nodig, daarom het ons besluit om eerstens te kyk om informele markte oop te stel waar strukture is.
“Mense wat uit die hand verkoop, hul produkte langs die pad uitstal of mielies uit kruiwaens verkoop, is tans nie oorweeg nie. Ons het vir nou handelaars oorweeg wat by die munisipaliteit geregistreer is,” het Muinjangue gesê.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie