Hotelle landswyd op ventilators
Hotelle landswyd op ventilators

Hotelle landswyd op ventilators

Die toerisme- en gasvryheidsbedryf is op sy knieë.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Die meeste hotelle landswyd het reeds hul deure weens die coronapandemie gesluit.

Een van die grootste en oudste hotelle in die hoofstad, Safari Hotels, het op 15 April afdankingsbriewe aan baie van hul werknemers gestuur.

Me. Gitta Paetzold, uitvoerende hoof van die Gasvryheidsvereniging van Namibië (HAN), het gister aan Republikein gesê alle hotelle is gesluit.

"Volgens die Covid-19-reëls moes alle hotelle sluit, behalwe dié wat in Maart nog buitelandse toeriste gehuisves het. Hulle moes vir die tydperk vir 'n noodsaaklike diens-sertifikaat aansoek doen en hulle mag nie Namibiërs huisves nie, net noodgevalle," het sy gesê.

Windhoek se enigste vyfster-hotel, Hilton Hotel, was een van die eerste hotelle wat sy deure op 27 Maart gesluit het.

Een van die vlagskiphotelle in Windhoek wat al 54 jaar bestaan, Safari Hotels, het gister aan Republikein bevestig afdankingsbriewe is op 15 April aan van hul werknemers gestuur met hul laaste werksdag op 15 Mei.

Die Safari Hotels-groepbestuurder, me. Ina Spies, het ontken dat 90% van hul werknemers afdankingsbriewe ontvang het.

"Ja, baie van ons werknemers gaan afgedank word, soos by al die ander hotelle. Ons het alles moontlik gedoen om te sorg dat ons mense kos kan koop," het sy gesê.

"Alles is toe, internasionale toeriste kom nie meer in nie. Hoe lank kan ons nog salarisse betaal sonder enige inkomste?"

Werknemers is in hul afdankingsbriewe belowe, indien die situasie in die toekoms sou verbeter, hulle heraangestel sal word.

"Die meeste hotelle landswyd het reeds gesluit. Safari Hotels is een van die laaste hotelle wat oopgebly het," het Paetzold bevestig.

'TREURIGE REALITEIT'

Sy sê die toerisme- en gasvryheidsbedryf wag reeds vier weke op die ministerie van arbeid, nywerheidsbetrekkinge en werkskepping en die regering om met 'n subsidieplan vir die toerismebedryf vorendag te kom.

"Ons moet die werkgewers in die toerismebedryf hoop gee om weer vir hul werkers hoop te gee,"sê sy.

"Baie in die toerismebedryf sit vir die tweede maand sonder 'n inkomste. Daar is nie kontant om hul bedryfsuitgawes en salarisse te dek nie."

"Ongelukkig is dit die treurige realiteit en ons kan ook nie hoop op groot staatsubsidies nie," skets sy die donker prentjie.

Paetzold sê tydens die internasionale reisverbod waartydens dit onmoontlik is om besigheid te doen, geld die reël van geen werk, geen salaris.

Werknemers in die toerismebedryf sal volgens die arbeidswet hul gewone skeidingspakkette ontvang wat 'n week se salaris is vir elke jaar gewerk.

'n Werknemer van Safari Hotels wat anoniem wil bly, het gesê hulle verstaan dat hulle afgedank is.

"Ons verstaan die ekonomie is in sy kanon in en jy kan nie bloed uit 'n klip tap nie. As ons moet gaan, moet ons gaan, maar die manier hoe dit gedoen is, is nie lekker nie," het sy gesê.

"Ek het agt jaar by Safari gewerk en ek gaan nou met twee maande se geld huis toe. Ek is vrou-alleen, ek het kinders op skool en ek bly in ’n huurhuis wat my N$4 000 kos. Gee my net 'n pakket dat ek kan oorleef. Wat moet ek met twee maande se geld maak?" vra sy.

Die toerismebedryf is die eerste sektor wat hard deur die gevolge van die Covid-19-pandemie geslaan is en is reeds op sy knieë.

Volgens die Toerismeverenigings van Namibië (Fenata) word 120 000 werksgeleenthede direk of indirek in die toerismesektor geraak, wat sowat 20% van die totale arbeidsmag in die land is.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!