Houtlorries se lot nog onseker
Die eienaars en drywers van die houtlorries wat in Zambië gestrand is, weet steeds nie hoe lank die beslaglegging nog gaan duur nie.
Ronelle Rademeyer - Die lot van die nagenoeg 200 Namibiese drywers wat reeds sowat vier maande in Zambië gestrand is nadat beslag gelê is op die vragmotors waarmee hulle hout vervoer het, is nou in die hande van die ministers van buitelandse sake van dié twee buurlande.
Die minister van internasionale betrekkinge en samewerking en adjunk eerste minister, me. Netumbo Nandi-Ndaitwah, en haar Zambiese eweknie, mnr. Harry Kalaba, het verlede week samesprekings oor die voortslepende kwessie gevoer.
“Die minister (Nandi-Ndaitwah) en haar eweknie in Zambië was verlede week in gesprek. Ons hoë kommissaris in Lusaka (mnr. Leonard Nambahu) monitor ook die omstandighede waarin die drywers hulle bevind. Ons betrek die Zambiese regering op alle vlakke,” het me. Selma Ashipala, permanente sekretaris van internasionale betrekking en samewerking, gister by navraag gesê.
Me. Charlet de Bruyn van HRL Investment op Walvisbaai wat as agent optree vir van die vragmotoreienaars en die Chinese kliënt vir wie hulle die hout vervoer, sê van die drywers “het nou al vir die derde keer malaria” opgedoen.
“Ons betaal vir hulle Amerikaanse dollar oor sodat hulle kos kan koop en versorg hulle gesinne aan hierdie kant. Dit gaan al van Februarie af so aan, maar dit is al wat ons kan doen.”
De Bruyn het Namibiese vragmotoreienaars gekontrakteer om met agt vragmotors in Lumbumbashi in die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK) mukula, ook bekend as rooshout of bloedhout vanweë die rooi kleur daarvan, op te laai en na die hawe op Walvisbaai te vervoer. Dié bedreigde houtsoort is groot in aanvraag in China.
Dit is in Februarie saam met sowat 190 ander Namibiese vragmotors vol hout gekonfiskeer. Volgens mediaberigte in ander buurlande is daar reeds op nagenoeg 700 vragmotors van Zimbabwe, Tanzanië, Botswana, Suid-Afrika en Namibië beslag gelê.
Haar kliënt in Lumbumbashi is die Chinese houtuitvoerder mnr. Eric Zhou.
Mnr. Deon van Blommestein, eienaar van DVB Trucking op Otjiwarongo wat deur De Bruyn gekontrakteer is, sê die vragmotoreienaars het verlede week met die Namibiese Kamer van Handel en Nywerheid (NCCI) op Walvisbaai vergader.
“Die manne (eienaars) is moedeloos en voel dit is tyd om ’n prokureur te betrek,” sê hy. Die plan is om in die hof in Lusaka ’n dringende bevel teen die Zambiese owerheid te kry wat gelas dat die vragmotors toegelaat word om na Namibië terug te keer.
Die Chinese nuusagentskap Xinhua berig die Zambiese Inkomste-owerheid (ZRA) konfiskeer vragmotors nadat pres. Edgar Lungu ’n regulasie onderteken het wat die vervoer van gesaagde hout deur Zambië verbied.
Xinhua berig mnr. Kingsley Chanda, algemene kommissaris van die ZRA, sê dié owerheid het besluit om alle vragmotors wat hout vervoer, te verbied om die land te verlaat terwyl die ondersoek hangende is.
Chanda het volgens die nuusagentskap aan joernaliste gesê dit blyk dat vervalste permitte en vervoerdokumente daarop dui die hout is uit die DRK afkomstig, terwyl dit eintlik Zambiese hout is. Handel in mukula is nie in die DRK verbode nie.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie