Hu00f3u00f3r net, daar is lewe
Hu00f3u00f3r net, daar is lewe

Hóór net, daar is lewe

[email protected]
Sanet de Waal
Elvira Hattingh

Die geluid van ‘n trollie wat in die gang af gestoot word, blink gepoetse skoene girts-girts saam met ‘n plastiekvoorskoot en latex-handskoene tot by jou bed. Hande wat eers gereinig word. “Your pills.”

Piep-pop, piep-pop, tik die masjiene die ure af. Verder net stilte, die buurman wat hoes en, soos elke oggend, vra wanneer hy kan huis toe gaan en of sy vrou maar nie net vinnig kan kom hallo sê nie. Nee, dis Covid, geen besoekers nie.

My hart breek saam met syne, want by die huis het ek ‘n sewe weke oue baba, ‘n ouer dogtertjie en vir manlief. Ek kan hulle ook nie sien nie. Nog iets wat die pestilensie van ons kom vat het.

Die oom langsaan bedel dan maar vir ‘n laataand “teetjie”. Al ken ek nie die gesig agter die gordynmuur nie, raak dit naderhand soos ‘n ou bekende.

Dis Mei 2021, net vóór die derde Covid-19-golf en ek is in die hospitaal se intensiewesorgeenheid, baie siek aan my galblaas, met komplikasies. Ek dog ek is jonk, ek dog ek is gesond, ek dog ek is fiks. Ek meen, sewe weke vantevore was ek nog swanger en ek het deurgaans seker gemaak ek eet gesond en bly sterk.

Toe ek my weer kon kry, is ek in wat maklik die ergste pyn in my lewe kon wees. Dan word dit bykans deel van jou – hierdie girts-girts en piep-piep geluide.

Ek staan meteens – tussen morfien en die pynnewels – in die middel van ‘n warm somersdag in die veld. Ek voel die brandende son op my vel en hoor die voëls in die bome. En die stilte. Die girts-girts maak jou wakker. “What do you want to eat?”

Ek wil nie eet nie. Iewers naby huil ‘n baba. Ek het mos ‘n baba, ek wil opstaan en die baba gaan help. “Waar’s my baba?!”

Ek besef die kombinasie van morfien en narkose is gevaarlik toe die lappie wat die verpleegster op die tafel neersit begin fladder en opstyg. Pienk olifante verskyn in my drome. Daar is balonne en helder kleure oral.

Later weer helderheid. Ek droom dis ‘n Saterdag en ek is in my “hemel”, waar ek en my gesin almal rustig in ons tuin werk. Dis net ‘n gewone, godgegewe dag, met die son helder op ons skouers.

Nege dae voel soos jare waarin jy met jou Skepper onderhandel, veral oor die groen koring op jou lande. En wens dat jy weer in die veld kon staan. Jy wonder oor vreemde dinge, want die koors wil net nie breek nie.

Jy leef vir die telefoonoproepe van jou geliefdes. Niemand behoort ‘n siektestryd alleen tussen hierdie geluide te voer nie. Daar is die geluid wat skree oor jou suurstof wanneer jy probeer slaap. Die ander een kerm jou hart klop te vinnig. Nog een skree oor jou koors.

Girts-girts. “Word wakker, sit hierdie op jou neus. Jou suurstofvlakke is té laag.”

Jy wag elke dag hoopvol vir die dokter, hoopvol dat jy na ’n gewone saal geskuif kan word. Die gewone saal is mos een stappie nader aan die veld daar buite. Daardie dag breek sowaar aan. Ook die een wanneer jy kan huis toe gaan.

Jy huil wanneer die son buite die hospitaal warm op jou skouers neerbak. Oorweldigende dankbaarheid dat jy in ‘n kar kan klim. Dat jy op hierdie pad kan ry. Al haat almal anders op die roete die verkeer en die hitte.

Op die bed by jou huis kan jy eers nie slaap nie, want daar buite blaf die honde. Jy hoor die kinders speel en die voëls tjirp! Jy hóór die lewe en jy is dankbaar, want nog nooit was dié geluide só mooi nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!